Oorlewende van Thailand-grotdrama sterf

Duangphet Promthep. (Foto: The National Thailand)

ʼn Seun wat in 2018 ʼn nagmerrie-ervaring in ʼn oorstroomde grot in Thailand oorleef het, is vandeesweek in ʼn hospitaal dood.

Hy kon wel daarin slaag om sy droom om in die buiteland sokker te speel voor sy dood verwesenlik.

Duangphet Promthep (17) is Dinsdag in ʼn hospitaal in Engeland dood nadat ʼn onderwyser by sy skool hom bewusteloos in sy koshuiskamer aangetref het, berig The New York Times.

Kiatisuk Senamuang, stigter van die Zico-stigting, sê Promthep is na ʼn hospitaal geneem, maar is later dood toe hy nie op die lewensondersteunende intervensies gereageer het nie.

Die oorsaak van sy dood is egter nie in hierdie stadium bekend nie.

Die polisie in Engeland vermoed nie vuilspel nie, maar ondersoek die voorval nietemin verder.

“Ons wag dat sy liggaam na Thailand gerepatrieer word,” het Thanaporn Duangthep, Promthep se ma, in ʼn virtuele nuuskonferensie in Mae Sai in die noorde van Thailand gesê.

Sy het bygevoeg dat haar seun minstens sy droom om ʼn sokkerspeler oorsee te wees, vervul het.

Promthep het verlede jaar na Engeland verhuis nadat hy met behulp van die Zico-stigting ʼn beurs ontvang het van die Brooke House College- sokkerakademie in Leicestershire.

Hy het ná dié verhuising foto’s van sy nuwe skool op sosiale media geplaas en onderneem om te fokus en sy beste te lewer.

Die tiener het in 2018 vir die eerste keer opslae gemaak toe hy een van 12 seuns was wat ná ʼn sokkeroefening saam met hul afrigter die Tham Luang Nang Non-grot in die Chiang Rai-provinsie in Thailand besoek het.

Swaar reënval het die ingang van die grot versper en die groep was gedwing om dieper die ondergrondse gange in te beweeg om nie te verdrink nie.

Die reddingspoging het vir dae lank geduur. (Foto: Twitter)

Hulle was op die ou einde vir meer as ʼn week in die grot vasgekeer, maar is eindelik met behulp van kundige grotduikers van regoor die wêreld en werkers van verskeie regeringsinstansies gered. Pompe is deurlopend gebruik om die watervlakke in toom te hou.

Die seuns en hul afrigter is ongedeerd gevind nadat hulle hul energie beperk het en water van die grot se mure af gedrink het.

Terwyl die groep in die donker grot vasgekeer was, het Promthep sy 13de verjaardag gevier.

Promthep se voormalige spanmaats het Woensdag hul medelye gedeel en getreur oor sy belowende toekoms wat kortgeknip is. Hulle het ook verwys na die swaarkry wat hulle destyds saam oorleef het.

“Toe ons mekaar laas gesien het voordat jy na Engeland vertrek het, het ek grappenderwys vir jou gesê ek moet jou handtekening kry wanneer jy terugkom,” het Prachak Sutham, een van die seuns wat uit die grot gered is, gesê.

“Rus in vrede my vriend, daar sal altyd 13 van ons wees.”

Promthep se skool het op sy beurt gesê hy en sy studente is verpletter oor Promthep se skielike dood.

“Ons verenig in ons hartseer met Dom [sy vriende se bynaam vir hom] se familie, vriende, voormalige spanmaats en diegene wat in sy lewe betrokke was.”

Die stromingsdiens Netflix het verlede jaar ʼn reeks uitgereik wat die gebeure voor, tydens en ná die redding van Promthep en sy spanmaats uit die grot uitbeeld.

Die reeks, Thai Cave Rescue, bestaan uit ses episodes en is geïnspireer deur die groep se uitdagings en die wêreldwye pogings wat aangewend is om hulle te red.

  • Lees die volledige beriggewing oor die Thailand-grotdrama hier.

Die sokkerspan en hul afrigter wat destyds vermis was. (Foto: Via nationmultimedia.com)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Dries ·

Tragies. Net gister weer gekyk na Drain the ocean, hoe hulle gered is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.