Oorlog in Oekraïne dalk onafwendbaar

Foto: Spesmagte van die Oekraïne met hul offensief besig. Getty Images

Foto: Spesmagte van die Oekraïne met hul offensief besig. Getty Images

‘n Video volg onderaan die berig. Kort nadat die VSA Rusland daarvan beskuldig het dat die Russe die Paasskietstilstand skend, het die Oekraïne dit self opgesê.

Opstandelinge in Oos-Oekraïne het nie, soos die ooreenkoms bepaal, hul wapens ingehandig en die geboue wat hulle beset, verlaat nie. Die ooreenkoms is gesluit tussen die rolspelers wat Rusland, die VSA en Europa insluit.

Volgens die jongste berigte het vyf Russies-gesinde seperatiste omgekom toe die weermag padversperrings wat die opstandelinge opgerig het, opgeruim het. Oekraïne se regering het ook bevestig dat vegvliegtuie aan die grens ingespan is. Rusland het die Oekraïne van “gevolge” gewaarsku as die land sy weermag teen sy eie burgers sou inspan, en sy militêre oefeninge aan die grens opgeskerp. Die VSA het Rusland met ernstige gevolge, waaronder verskerpte sanksies, gewaarsku.

Rusland het die skuld vir die skending van die Paasskietstilstand op die Oekraïne geplaas.

Die Oekraïne se aanvanklike offensief teen die gebou-besetters het windskeef verloop nadat van sy troepe met wapens en al na die opstandelinge oorgeloop het. Voor daar met mening toegeslaan kon word, is die skietstilstand gesluit.

Woensdag is berig dat Rusland weer met militêre oefeninge langs die grens met Oekraïne begin het.

Opstandelinge, onder die leiding van Russiese soldate, het ook verskeie wapenopslagplekke bestorm en geplunder. ‘n Aanval op ‘n weermagbasis is egter afgeslaan.

Waarnemers het daarna militêre helikopters na die ooste sien vlieg.

Intussen het die VSA nog troepe na Pole gestuur, hoewel dit onwaarskynlik lyk dat die VSA of Navo fisies by ‘n oorlog teen Rusland betrokke sal raak.

Intussen is ook in die VSA berigte gepubliseer oor die nuwe wapentuig waaroor die Russiese soldate beskik. Dit is veral die gepantserde kleredrag van die soldate wat waarnemers bekommer, omdat dit lyk of hierdie koeëlvaste kleredrag selfs Amerikaanse vuurwapens, wat groter slaankrag as dié van die Oekraïne het, kan weerstaan.

Amerikaanse militêre leiers beskryf die huidige situasie as “baie moeiliker” as die Koue Oorlog.
Bronne: Trouw, De Standaard, Christian Science Monitor, Bloomberg

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.