‘Oorlog kan nog tot einde van 2023 duur’

Boris Johnson. (Foto: Matt Dunham/AP)

Boris Johnson sê dit is moontlik dat die inval van Rusland in Oekraïne tot einde 2023 kan voortduur.

“Die hartseer ding is dat dit ʼn realistiese moontlikheid is,” het die Britse premier Vrydag in antwoord op ’n verslaggewer se vraag gesê.

Johnson, wat onlangs verbied is om na Rusland te reis, is tans op ’n besoek van twee dae in Indië.

Johnson het tydens die besoek aan verslaggewers gesê pres. Wladimir Poetin van Rusland het ʼn “katastrofale flater” begaan toe hy beveel het dat Rusland Oekraïne moet binneval.

Argieffoto van die oorlog in Oekraïne. (Foto: Aris Messinis/AFP)

“Die enigste opsie wat hy nou regtig het, is om voort te gaan om sy afgryslike en neerdrukkende benadering te probeer deurvoer.”

Johnson het gesê ʼn “realistiese” onderhandeling om die konflik te beëindig “lyk nie op die oomblik waarskynlik nie”, maar dat Europa en Oekraïne self uiteindelik toekomstige veiligheidsreëlings sal moet bespreek.

“Wat die Oekraïners wil hê, en ek dink nou gaan kry, is ʼn versameling sekuriteitswaarborge van eendersdenkende lande, sekuriteitsverpligtinge oor wat ons kan doen om hulle te steun.”

Dié sekuriteitswaarborge kan wapens en opleiding insluit om Oekraïne in staat te stel om toekomstige Russiese aanvalle te voorkom.

Frankryk het reeds Vrydag aangedui dat hy swaar artillerie na Oekraïne gaan stuur.

Johnson en ander senior Britse politici word tans verbied om Rusland binne te gaan in reaksie op wat die Russiese regering bestempel as Brittanje se “ongekende vyandige houding” teenoor die oorlog in Oekraïne.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.