Oorsaak van ‘Brooklyn Nine-Nine’-akteur se dood bekend

André Braugher, bekend vir sy rol in “Brooklyn Nine-Nine” het gesterf. (Foto: Brooklyn Nine-Nine/Instagram)

Die akteur André Braugher, is ʼn paar maande voor sy dood met longkanker gediagnoseer, het ʼn verteenwoordiger van Braugher aan E! News bevestig.

Maroela Media het vroeër berig dat Braugher, bekend vir sy rol as Captain Raymond Holt in die humoristiese TV-reeks Brooklyn Nine-Nine, op 11 Desember ná ʼn kort siekbed dood is. Hy was 61 jaar oud.

Braugher het in sy loopbaan, wat oor dekades strek, in verskeie rolprente en TV-reekse opgetree. Hy was veral bekend vir sy rol in die misdaadreeks Homicide: Life on the Street, waarmee hy ʼn Emmy in 1998 verwerf het.

Hy het sy tweede Emmy in 2006 ontvang vir sy rol in die minireeks Thief. Hy was ook in flieks soos Glory, Get on the Bus, Primal Fear en City of Angels te sien.

Medelye stroom intussen steeds in ná die aankondiging van sy dood.

Terry Crews, Braugher se mede-akteur in Brooklyn Nine-Nine, het vandeesweek op sosiale media gesê hy kan steeds nie glo Braugher is weg nie.

“Ek voel geëerd om jou te kon ken, saam met jou te kon lag en te werk, en om jou onvervangbare talent vir agt wonderlike jare te kon aanskou.

“Dit [jou dood] maak seer. Jy het ons te vroeg verlaat. Jy het my soveel geleer. Ek sal vir altyd dankbaar wees dat ek jou geken het. Dankie vir jou wysheid, raad, deernis en vriendskap. Sterkte aan jou vrou en geliefdes in hierdie moeilike tyd. Jy het my gewys hoe ʼn goeie lewe lyk.”

Bronne: E! News / Instagram

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.