Oorsaak van China-vliegongeluk steeds raaisel

Soek- en reddingswerkers op die toneel van die China Eastern- vliegtuigongeluk (21 Maart 2022) (Foto: STR/AFP)

Die oorsaak van die vliegramp in China – waar ’n passasiersvliegtuig met 132 mense aan boord neergestort het – kan nog nie bevestig word nie.

Ondersoekers krap ná byna ’n maand steeds kop oor waarom China Eastern-vlug MU5735 in die Guangxi-provinsie neergestort het. Die vliegtuig van die China Eastern-lugdiens was van Kunming na Guangzhou onderweg en het ’n reuse-bosbrand tot gevolg gehad nadat dit neergestort het.

Maroela Media het vroeër berig geen oorlewendes is opgespoor nie.

Twee vlugopnemers is teruggevind en word in die Verenigde State ontleed in die hoop om die raaisel agter die ongeluk op te los.

’n Opsomming van die verslag wat Woensdag deur die Burgerlugvaartadministrasie van China (CAAC) vrygestel is, het geen verdere besonderhede gegee oor die moontlike redes wat die ongeluk kon veroorsaak het nie.

Die opdatering het gekom nadat 30 dae verloop het sedert die voorval – die sperdatum waarteen China verplig is om ’n voorlopige verslag by die Internasionale Burgerlugvaartorganisasie in te dien.

Ondersoeke het bevind die vlug- en kajuitpersoneel se kwalifikasies “voldoen aan vereistes” en dieselfde is gesê van die instandhoudingspersoneel, het die CAAC in ’n verklaring gesê.

“Die lugwaardigheidsertifikaat van die vliegtuig in die ongeluk was geldig,” lui die verklaring.

Daar was geen berig van foute voor die vlug nie, en daar is ook nie vrag as gevaarlike goedere op die vliegtuig verklaar nie. Volgens die CAAC was daar ook geen abnormaliteite in navigasie- en moniteringstoerusting opgemerk nie.

Die vliegtuig was met twee vlugopnemers toegerus: ’n Stuurkajuitstemopnemer en ’n  vlugdata-opnemer in die agterste passasierskajuit.

Die toestelle “is erg beskadig weens die impak, en dataherstel- en ontledingswerk is steeds aan die gang,” het die owerhede gesê.

China Eastern het vroeër gesê die vliegtuig se kaptein en twee medevlieëniers is nie onder verdenking nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
Kerrie

Raaisel?

Dit sê dan op die onderkant van die vliegtuig
“MADE IN CHINA”.

Grens

Dit gaan ‘n baie belangrike ondersoek wees. Hierdie vliegtuig het amper loodreg grond toe gegaan soos op webcams gesien. Daar word ook gespekuleer dat die vertikale stabiliseerder nie gesien kan word op die fotos.