Oorsaak van Indië treinramp nog nie bekend

Polisiebeamptes ondersoek die wrak van die ongeluk tussen drie treine naby Balasore, Odisha in Indië (4 Junie 2023) (Foto: Dibyangshu Sarkar/AFP)

Familielede is Sondag nog desperaat op soek na vermiste geliefdes ná Indië se ergste treinramp in dekades. Die dodetal sal na verwagting 288 verbysteek terwyl owerhede nog op soek is na die oorsaak van die ongeluk.

Kenners is steeds op die toneel ná Vrydagaand se ongeluk naby Balasore in die oostelike staat van Odisha.

“Ek het bloederige tonele gesien, liggame wat vermink is en ʼn man sonder ʼn arm wat desperaat probeer het om sy beseerde seun te help,” het navorser Anubhav Das (27) aan AFP gesê. Hy het die ongeluk oorleef.

Daar is nog verwarring oor presies wat gebeur het, maar spoorwegbeamptes het glo gesê ʼn sinjaalfout het die Coromandal Express, wat in ʼn suidelike rigting van Kolkota na Chennai beweeg het, op ʼn syspoor geplaas.

Die Coromandal Express het teen ʼn vragtrein gebots en die wrak het ʼn derde trein – wat in ʼn noordelike rigting van Bengaluru na Kolkota beweeg het, getref.

Eerste minister Narendra Modi het die ongelukstoneel en beseerde passasiers besoek wat in die hospitaal behandel word. Hy het gesê “geen persoon wat hiervoor verantwoordelik is” sal vervolging vryspring nie.

“Ek bid dat ons so vinnig as moontlik uit hierdie hartseer oomblik sal kom,” het hy aan die staatsuitsaaier Doordarshan gesê.

Reddingswerkers op die toneel naby Belasore in Indië waar drie treine in ʼn ongeluk betrokke was (3 Junie 2023) (Foto: Dibyangshu Sarkar/AFP)

ʼn Hoërskool, naby aan die toneel, is in ʼn tydelike lykshuis omskep. Beamptes sê egter talle van die liggame is só vermink dat baie van die families hul geliefdes slegs deur juweliersware kon uitken.

“Daar is liggame met slegs ʼn bolyf; een wat heeltemal verkool het en ʼn skedel wat vergruis is – daar is geen ander identiteitsmerkers nie,” het Ranajit Nayak, polisiebeampte verantwoordelik om die liggame vry te stel, gesê.

In die bloedige hitte word talle van die liggame na groter sentra oorgeplaas en beamptes het dit laat blyk dat sommige persone slegs deur DNS-toetse uitgeken sal word.

Das sê hy was in die laaste wa van een van die treine toe hy “kras, verskriklike klanke in die verte” gehoor het. Sy treinwa het nie omgeval nie en hy kon, sonder beserings, uitspring toe dit tot stilstand gekom het.

“Ek het ophou tel hoeveel liggame ek sien voor ek die toneel verlaat het. Nou voel ek byna skuldig daaroor,” het hy gesê.

Omstanders het hulle na die toneel gehaas om slagoffers by te staan voor nooddienste opgedaag het.

Owerhede het gesê elke hospitaal tussen die ongelukstoneel en die staatshoofstad Bhubaneswar, sowat 200 km daarvandaan, ontvang slagoffers. Sowat 200 ambulanse, en selfs busse, is gebruik om die persone te vervoer.

Nooddienste het Saterdagaand die reddingspoging opgeskort toe die wrak ten volle deursoek is vir oorlewendes.

“Alle liggame en beseerde passasiers is van die ongelukstoneel verwyder,” het ʼn beampte van die Balasore-noodbeheerkamer gesê.

Sudhanshu Sarangi, direkteur-generaal van Odisha-brandweer, het gesê die dodetal staan op 288, maar dit sal na verwagting verder styg – waarskynlik tot 380.

Pradeep Jena, hoofsekretaris van Odisha, het bevestig sowat 900 mense is in hospitale opgeneem.

Indië het een van die wêreld se grootste spoornetwerke en het al verskeie rampe oor die jare beleef. Die ergste was in 1981 toe ʼn trein op ʼn brug in Bihar ontspoor en in die rivier onder die brug beland het. Tussen 800 en 1 000 mense is oorlede.

Vrydag se ongeluk is die derde ergste treinramp en die dodelikste sedert 1995 toe twee passasierstreine in Firozabad naby Agra gebots het. Meer as 300 mense is oorlede.

Die ramp kom ondanks nuwe beleggings en opgraderings aan tegnologie wat spoorwegveiligheid die afgelope paar jaar beduidend verbeter het.

Die ministerie van spoorweë het aangekondig dat ʼn ondersoek van stapel gestuur is.

Meegevoel word van reg oor die wêreld betuig.

Pres. Cyril Ramaphosa sê die Suid-Afrikaanse regering en sy mense staan in solidariteit met diegene wat deur die ramp geraak is. Hy loof die noodreddingspan en mediese personeel vir hul werk.

Pous Franciskus het gesê hy is “baie hartseer” oor die “geweldige lewensverlies” en het gesê hy bid vir “al die beseerdes.

VN-sekretaris-generaal Antonio Guterres het ook sy innige meegevoel met die families van die slagoffers betuig.

Franse president Emmanuel Macron sê hy “dink aan die families van die slagoffers” en het sy meegevoel betuig aan Indië se president en eerste minister.

Antony Blinken, Amerikaanse minister van buitelandse sake, het ook sy “innige meegevoel betuig met die families en geliefdes van die slagoffers” en het die “heldhaftige pogings van nooddienspersoneel” geloof.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.