Oorsaak van miljardêr-egpaar se dood bekend

Polisielint rondom die huis van Barrey en Honey Sherman in die noorde van Toronto, Kanada (16 Desember 2017). Foto: AP Photo/Robert Gillies

Speurders van Toronto wat die ondersoek oorgeneem het van die dood van miljardêr Barry Sherman en sy vrou, het die oorsaak van hul dood bekend gemaak.

Aldus die speurders is die egpaar verwurg.

Barry Sherman (75) is die stigter van Apotex, ʼn reuse- farmaseutiese maatskappy wat hy in 1974 begin het deur ʼn groot hoeveelheid laekoste generiese medisyne die mark in te stoot. Hy het in 2012 uitgetree as uitvoerende hoof, maar was steeds uitvoerende voorsitter van die maatskappy.

Forbes het Sherman se fortuin op $3,2 miljard beraam.

Barry en sy vrou Honey is Saterdag dood aangetref in hul huis in Toronto. Die polisie vermoed onraad. Die polisie het vroeër gesê daar is geen teken van gedwonge toegang nie en daar is nie ʼn verdagte waarna hulle op soek is nie.

Bronne het aan media gesê die egpaar is naby ʼn binnenshuise swembad in die kelder van hul huis aangetref waar hulle gehang het. Daar was nie ʼn nota om te verduidelik wat met die egpaar gebeur het nie.

Die egpaar se vier kinders verwerp gerugte dat die sterftes ondersoek word as ʼn moord-selfmoord en talle van die invloedryke egpaar se vriende beaam dit. “Daar is geen twyfel nie, dit was ʼn dubbele moord,” het Kanadese senator Linda Frum, jarelange vriendin van die egpaar, aan die New York Times gesê.

Die Sherman-familie het in ʼn verklaring die polisie gemaan om die sterftes “deeglik en objektief” te ondersoek en die media versoek om nie te spekuleer oor die oorsaak van die sterftes nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.