Oorsaak van ‘ontvoerde’ vrou se dood bevestig

misdaadtoneel

Argieffoto

Byna ʼn jaar nadat ʼn vrou van Spokane, Washington in die VSA, dood in die kattebak van haar motor gevind is, het plaaslike polisie uiteindelik bevestig dat sy selfmoord gepleeg het.

Die Amerikaanse nuusagentskap CBS News berig Rita Maze (47) se liggaam is op 7 September 2016 in haar motor se kattebak naby die Spokane Internasionale Lughawe gevind. Sy is in haar bors geskiet. ʼn Vuurwapen is saam met haar in die kattebak gevind.

Maze se dogter, Rochelle, het gesê haar ma het haar die vorige aand gebel en histeries gesê sy is by ʼn vulstasie ontvoer, agter in haar motor se kattebak gedruk en sy weet nie waar sy is nie. Maze het aan haar dogter gesê sy is bang haar ontvoerder sal haar vuurwapen, wat sy in haar handsak gesit het, in die hande kry. Die oproep is afgesny en die familie kon haar nie weer telefonies bereik nie.

Polisieowerhede het Maze se selfoonligging gebruik om haar op te spoor. Haar bankstate is ook nagegaan om uit te pluis waar sy kon wees. Volgens CBS News het ʼn polisiebeampte tydens die soektog Maze se selnommer geskakel. Iemand het die oproep beantwoord waarna hy gehoor het hoe ʼn skoot afgaan, gevolg deur ʼn doodse stilte.

Daar is internasionaal oor Maze se dood berig en later het daar vrae ontstaan oor hoe sy regtig gesterf het. NY Daily News berig Rochelle het ontken haar ma kon selfmoord gepleeg het. Sy het aan verslaggewers gesê sy glo haar ma is vermoor en die moordenaars wou dit soos selfmoord laat lyk.

ʼn Ondersoek na Maze se dood is van stapel gestuur en in Desember het die polisie gesê hulle soek nie aktief na enige verdagtes nie. Die polisie het Donderdag aangekondig hulle het amptelik bevind die oorsaak van Maze se dood was ʼn selftoegediende skietwond en die ondersoek is afgehandel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Chris Ws ·

Wys mens net hoe deurmekaar die Amerikaners is!Ons sien baie sulke gevalle van onbevoegde polisielede in Amerika in programme op tv.

Johan Kotze ·

Ja. In Amerika pleeg mense selfmoord deur hulself twee keer agter in die kop te skiet, plastieksakke oor hul koppe te trek, agteruit van geboue af te spring en hul eie motors te laat ontplof. Dinge is baie anders daar as in die res van die samelewing.

Alicia ·

rerig, ek dink nie dit was selfmoord nie. muskien het iemand dit laat lyk soos selfmoord. hoekom sal iemand op so n manier huself doodmaak

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.