Oorsaak van talle pelikaanvrektes in Senegal bekend

Pelikane (Foto: Pixabay)

Wetenskaplike ontleding het getoon dat voëlgriep die oorsaak van minstens 750 pelikaanvrektes in die Djoudj National Bird Sanctuary in Senegal was.

Owerhede het die siekte aanvanklik as oorsaak van die vrektes uitgeskakel.

Altesaam 740 jong en 10 volwasse pelikane is op 23 Januarie dood in die voëlpark aangetref.

Maroela Media het vroeër berig die voëlpark is vier dae later vir lede van die publiek gesluit, ook vir die kano-toere deur die park se waterweë.

Nadoodse ondersoeke is gedoen en die karkasse en enige ander afval van die gevrekte pelikane is vernietig.

Die owerhede het voëlgriep aanvanklik uitgeskakel as ’n moontlike oorsaak omdat hulle geglo het ’n onlangse uitbreking van die virus op ’n plaas in die weste van Senegal is in bedwang gebring. Meer as 40 000 stuks pluimvee en 60 000 voëls het weens die uitbreking gevrek.

Ná noukeurige ontleding is vasgestel dat die pelikaanvrektes wel aan voëlgriep toegeskryf kan word.

Die owerhede is nou opnuut oortuig dat die uitbreking agter die rug is.

Volgens Bocar Thiam, direkteur van nasionale parke, is pelikane nie so vatbaar vir die virus nie omdat hulle vis vreet. Voëls wat graan vreet, is volgens hom meer vatbaar vir die siekte.

Senegal se grense is sedert 2005 weens ʼn voëlgriep-pandemie vir die in- en uitvoer van pluimveeprodukte gesluit. Die regering sukkel egter om onwettige invoere te stuit.

Verskeie Europese lande sukkel ook met uitbrekings van voëlgriep, met twee miljoen diere – meestal eende – wat verlede maand in Frankryk van kant gemaak moes word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Henk ·

Hoe maak die boere in die Europese lande nou ‘n lewe? Word hulle vergoed vir die uitroeiings?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.