Oorsaak van vermiste stappers se dood bekend

ʼn Foto van Rachel Nguyen (links) en Joseph Orbeso wat deur die National Park Service vrygestel is toe daar nog na die paartjie gesoek is. Foto: National Park Service via AP, File

Twee stappers wat in die Joshua Tree National Park in die suide van Kalifornië in die VSA vermis geraak het en wie se liggame byna drie maande later gevind is, se familie glo hulle het as gevolg van ʼn “simpatieke moord-selfmoord poging” gesterf.

Rachel Nguyen (20) en Joseph Orbeso (22) het op 28 Julie vermis geraak nadat hulle in die park gaan stap het en nooit na hul gastehuis teruggekeer het nie. ʼn Uitgebreide soektog na die paartjie is van stapel gestuur en dit het reddingspanne weke geneem om die rowwe terrein te fynkam.

Hul voertuig is dieselfde dag wat hulle vermis geraak het naby die begin van ʼn staproete in die park gevind. Honde, soekspanne op perde en helikopters is gebruik om na die paartjie te soek. Die soektog is op 6 Augustus afgeskaal nadat daar steeds geen teken van Nguyen en Orbeso was nie.

Die twee se liggame is uiteindelik op 15 Oktober in ʼn steil kloof gevind.

Die San Bernardino- departement van polisie het intussen gesê nadoodse ondersoeke het getoon dat die paartjie weens skietwonde gesterf het. Bewyse wat op die toneel gevind is dui daarop dat Orbeso eers vir Nguyen en toe homself geskiet het.

Die onthulling kom dae nadat Orbeso se pa, wat saam met die soekspan was wat die liggame gevind het, gesê het die liggame was in ʼn omhelsing toe hulle gevind is. Nguyen en Orbeso se klere was oor hul bene gegooi om hul ledemate teen die hitte te beskerm.

“Die manier waarop [Orbeso] langs Rachel gevind is terwyl hulle skadu onder ʼn bos gesoek het, sê vir jou alles wat jy oor hom as ʼn man en mens wil weet,” het Gilbert Orbeso, Joseph se pa, aan die Southern California News Group gesê. “Ek is trots om sy pa te wees en sy goedheid sal voortleef in my en in almal wat hom geken het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Ashley ·

Huhh!!! Wens ons was. Die land sou heel anders gelyk het nefie.

Rina Pretorius ·

ons wil graag he die hele wereld moet weet wat in SA aangaan so hoekom wil ons dan nou nie ook hoor wat in die wereld gebeur nie

alicia ·

julle wat so moun oor buitelandse nuus….kom oor dit en moet dit dan nie lees nie. ek like om te lees wat in die wereld aangaan so maroela bring die stories van wyd en naby !!hou aan julle doen n goeie job met jul berigte!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.