Oorsaak van vliegongeluk jare later vasgestel

Foto: EgyptAir

Die oorsaak van die vliegtuigongeluk waarin ’n EgyptAir-vliegtuig in die Middellandse See neergestort het, is ná sowat ses jaar vasgestel.

Volgens ’n ongelukverslag wat in Maart in die Paryse appèlhof in Frankryk gelewer is, is die ongeluk waarskynlik veroorsaak deur ’n brand wat weens ’n lekkende suurstofmasker in die kajuit uitgebreek het. Die verslag dui nie aan wat die lekkende suurstof aan die brand kon steek nie, maar ʼn vroeëre verslag spekuleer dat dit dalk deur die vlieënier se sigaretstompie of ʼn elektriese kombers veroorsaak kon word.

Die verslag is Woensdag deur die Italiaanse koerant Corriere della Sera onthul.

“Suurstof wat uit die medevlieënier se noodsuurstofmasker gelek het, word beskou as die deurslaggewende element in die oorsaak van die brand,” lui die verslag.

EgyptAir se vlug MS804 het op 19 Mei 2016 van Parys na Kaïro gevlieg. Die radar wys die vliegtuig het 90 grade links gedraai, toe ʼn volle 360 grade na regs voordat dit van ʼn hoogte van 11 km tot 4,5 km geval het. Die vliegtuig het op ʼn hoogte van 3 km van die radar verdwyn. Al 66 mense aan boord van die vliegtuig het in die ongeluk omgekom.

Egipte se minister van lugvaart het aanvanklik gesê dat dit ʼn terreuraanval was, eerder as ʼn gebrek aan onderhoud.

Frankryk se lugvaartveiligheidsagentskap het op sy beurt gesê die vliegtuig het geoutomatiseerde boodskappe uitgestuur wat rook in die kajuit en ʼn fout in die vlugbeheereenheid aangedui het, minute voordat die vliegtuig van die radar verdwyn het.

ʼn Verslag deur deskundiges wat in Junie verlede jaar opgestel is, het drie moontlike oorsake vir die brand voorgestel: ’n Kombers gelaai met statiese elektrisiteit wat deur die vlieënier versoek is om onder te slaap, vetterige elemente in die maaltyd wat aan die vlieënier bedien is en ʼn hoë waarskynlikheid van ʼn aangesteekte sigaret of ʼn brandende sigaretstompie in ʼn asbak.

Die bemanning het gereeld in die stuurkajuit gerook, het die verslag bevind.

’n Kennersverslag wat in Junie 2018 uitgereik is, het ook daarop gedui dat die boks met die medevlieënier se suurstofmasker drie dae voor die ongeluk vervang is. Die redes daarvoor is nie vasgestel nie.

“Die vervanging van hierdie toerusting vereis baie noukeurige verifikasie. Suurstoflekkasies is baie gevaarlik,” het die kenners in die verslag gesê.

Verteenwoordigers van die slagoffers se families vra nou dat kriminele klagte teen die lugredery ingestel word, aangesien ʼn reeks nalatige optredes tot die ongeluk gelei het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.