Oorskot van vermiste stapper 30 jaar later gevind

Die oorskot is op ʼn plek met die naam Lagginjoc, 3 499 m teen die berg op, gevind. Foto: Police of Canton Valais/Keystone via AP

Vir die tweede keer binne ʼn paar weke is die oorskot van ʼn mens wat dekades gelede vermis geraak het in die ys in die Alpe gevind.

Hierdie keer was dit die oorskot van ʼn Duitse stapper wat 30 jaar gelede vermis geraak het toe hy in die Alpe in Switserland gaan stap het. Die plaaslike polisie het Woensdag gesê bergklimmers het op die oorskot van die stapper afgekom waar hy “gedeeltelik in die ys vasgevang was”.

Die Swiss News Agency berig die liggaam is naby Saas-Grund in ʼn Duitssprekende gedeelte van Switserland gevind deur twee bergklimmers wat die 4 010 m hoë berg aangepak het. Die oorskot is op ʼn plek met die naam Lagginjoc, 3 499 m teen die berg op, gevind.

Die oorskot is die volgende dag per helikopter na die Universiteit van Bern geneem waar die slagoffer amptelik geïdentifiseer is as die Duitse man wat op 11 Augustus 1987 vermis geraak het.

Maroela Media het vroeër berig die oorskot van Marcelin en Francine Dumoulin wat meer as 70 jaar gelede vermis geraak het, is verlede maand in ʼn smeltende gletser ook in die Alpe in Switserland opgespoor. Die liggame is deur ʼn werknemer van die ski-maatskappy Glacier 3000 in die omgewing van die Les Diablerets-oord opgespoor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.