Oorskot, wrakstukke gevind ná Indonesiese vliegtuig neerstort

Reddingswerkers bestudeer die wrakstukke wat gevind is. (Foto: Dany Krisnadhi / AFP)

Indonesiese duikers het liggaamsdele, wrakstukke en kledingstukke uit die see naby die kus van Djakarta gebring nadat ’n passasiersvliegtuig van ’n plaaslike laekoste-lugredery Saterdag net nadat dit opgestyg het in die see neergestort het.

Altesaam 50 passasiers onder wie tien kinders en 12 bemanningslede was aan boord van Sriwijaya Air se Boeing 737-500 toe dit Saterdagmiddag by Djakarta se Soekarno-Hatta Internasionale Lughawe opgestyg het.

Die vliegtuig was onderweg na die stad Pontianak op die eiland Borneo, maar het vier minute ná vertrek kontak met die beheertoring verloor.

Liggaamsdele, wrakstukke en kledingstukke is uit die see naby die kus van Djakarta gebring. (Foto: Dany Krisnadhi / AFP)

Die omgewing in die Java-see waar die vliegtuig neergestort het, is Sondagoggend deur die Indonesiese weermag bevestig waarna duikers ontplooi is om na die wrak te soek.

“’n Militêre vaartuig het ’n sein van Sriwijaya Air vlug SJ182 opgetel en duikers het dele van die vliegtuig van ongeveer 23 meter onder die wateroppervlak uit die water gebring,” het die Indonesiese departement van vervoer intussen gesê.

Volgens Yusri Yunus, woordvoerder van die plaaslike polisie, is verskeie liggaamsdele uit die water gebring. Die liggaamsdele is na die Kramat Jati-polisiehospitaal in Djakarta geneem om uitgeken te word.

Familielede wag by die lughawe in Pontianak. (Foto: Louis Anderson / AFP)

Dit is nie in dié stadium duidelik of daar enige oorlewendes is nie. Familielede van die passasiers wag angstig op die lughawes in Djakarta en Pontianak vir nuus oor hul geliefdes.

“Ek het vier lede van my gesin op die vlug – my vrou en my drie kinders,” het ’n emosionele Yaman Zai aan verslaggewers gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.