Oorstromings bedreig suide van Nieu-Seeland

Vloedwaters Woensdag in Gore, Nieu-Seeland. (Newshub via AP)

Honderde mense moes Woensdag hul huise en plase in die suide van Nieu-Seeland weens oorstromings noodgedwonge ontruim.

Plaaslike owerhede het die inwoners van die dorpe Gore, Mataura en Wyndham gemaan om hul huise te verlaat namate riviervlakke aanhou styg ná swaar reënval in dié streek.

Etlike honderde toeriste is vroeër vandeesweek uit Milford Sound na veiligheid gebring toe hulle as gevolg van oorstromings en modderstortings vasgekeer is. Paaie was in dié stadium nie meer toeganklik vir motors nie en talle van die toeriste is per helikopter verwyder.

ʼn Gesin vertel dat hulle ʼn angswekkende nag in ʼn hut op ʼn gewilde staproete moes deurbring en noodgedwonge tafels moes gebruik om op stapelbeddens te klim sodat die vloedwater nie by hulle kon uitkom nie.

Vloedwaters Woensdag in Gore, Nieu-Seeland. (Newshub via AP)

“Ons was bekommerd dat die hele hut sou begin beweeg omdat dit gekraak en die water teen die mure van die hut gedruk het. Ons het toe laataand gate in die mure van die hut gemaak sodat die water kon deurvloei,” het Tui Grenfell aan die plaaslike uitsaaier Newshub gesê.

Die gesin is die volgende oggend per helikopter na veiligheid geneem.

Owerhede het intussen ’n noodtoestand in die suidelike deel van Nieu-Seeland se Suideiland verklaar.

Nog reën word in die komende dae vir dié streek voorspel hoewel dit na verwagting nie swaar buie sal wees wat oorstromings sal veroorsaak nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

ElizeK ·

Shame dit is erg, maar so het elke land sy kruis om te dra. AUS brand af–NZ oorstroom–China het koronavirus– Amerika het Trump sake–Engeland het Meghan sake ens ens EN SA ?? Ons het die ANC

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.