Oorstromings in China eis nóg lewens

In een video wat op sosiale media gedeel is, kan gesien word hoe motors in die strate dryf (Foto:
Kwaku Krobea Asante, Twitter)

Die dodetal weens verwoestende oorstromings in Henan, die sentrale provinsie van China, het Donderdag tot minstens 33 gestyg. Meer as 200 000 inwoners van Zhengzhou, die hoofstad van die provinsie, moes hul wonings ontruim en is tans in skuilplekke gevestig. ʼn Dagsorgsentrum in dié stad het ook onder vloedwaters deurgeloop en 150 kinders moes gered word.

Foto’s en video’s op sosiale media wys hoe die strate, motors en geboue onder water is. Talle damwalle, geboue en paaie is deur vloedwater beskadig.

In een video wat op sosiale media gedeel is, kan gesien word hoe motors in die strate dryf.

Swaar reënval die afgelope drie dae het oorstromings en grondstortings in die provinsie veroorsaak. Volgens die land se nasionale meteorologiese diens is 617 mm reënval binne een dag aangeteken.

Die totale reënval wat die afgelope drie dae in die provinsie geval het, is gelykstaande aan die totale reënval wat gewoonlik tydens ʼn hele reënvalseisoen aangeteken word. Nóg reën word boonop vir Donderdag voorspel.

Volgens die nuuswebwerwe Mediarun Search en UOL is sowat 150 kinders uit ’n dagsorg in Zhengzhou gered nadat dié gebou oorstroom is.

 

Belangrike erfenisterreine het ook waterskade opgedoen, waaronder die Shaolin-tempel – ʼn  bekende klooster en ʼn skool vir vegkuns. Die Longmen-grotte, ʼn Unesco-erfenisgebied van Boeddhistiese kerfwerk in klip wat dateer van die vyfde eeu, is ook beskadig.

Maroela Media het vroeër berig die moltreinstelsel in Zhengzhou is oorstroom en in die proses het minstens 12 mense die lewe gelaat. Duisende mense was in treinwaens vasgekeer toe ʼn muur naby een van die ingange van die spoorlyn meegegee het.

Beeldmateriaal van die voorval wat op Twitter gedeel is, wys hoe vreesbevange passasiers aan handvatsels klou terwyl die water tot by hul nekke styg. Die watervlak het ure later begin sak en nooddienswerkers kon passasiers een vir een uit die waens red. Die lyke van die oorledenes is ook uit die waens verwyder.

Die swaar reën het kragonderbrekings in dele van die stad veroorsaak wat tot gevolg gehad het dat ʼn hospitaal met byna 10 000 pasiënte glo ʼn uur lank sonder krag gesit het.

Die kragonderbreking is glo veroorsaak deur ʼn groot ontploffing wat by ʼn fabriek in Dengfeng-stad plaasgevind het.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Elinette ·

China is deesdae vir al die verkeerde redes in die nuus!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.