Oorstromings in Duitsland eis lewe van tientalle

Talle huise is in Duitsland verwoes. (Foto: Ina Fassbender/AFP)

Minstens 42 mense is dood en 70 word vermis nadat swaar reën in Duitsland verwoestende oorstromings tot gevolg gehad het. Dié reënbuie het buurlande soos Luxemburg, Nederland en België ook getref en vier mense is intussen daar dood.

Die skielike styging in watervlakke het veroorsaak dat verskeie huise in Duitsland in duie stort. Dié wat wel die vloedwater weerstaan het, se dakke is vir skuiling gebruik.

“Vier mense is in die Schuld-munisipaliteit dood toe ses huise in oorstromings meegesleur is en minstens 18 lyke is in die stad Ahrweiler gevind,” het ʼn polisiewoordvoerder gesê.

Nog lyke is uit oorstroomde kelders gehaal, terwyl 15 mense in die stad Euskirchen dood is.

Rynland-Palts en Noord-Rynland-Wesfale (NRW) is egter van dié plekke wat die hardste deur die oorstromings getref is. Die departement van omgewingsake in Rynland-Palts het gewaarsku dat die vloedwater in die Ryn- en Moselrivier sal styg indien nog meer reën val. Dit kan verdere oorstromings in buurte veroorsaak.

(Foto: Ernst Mettlach/AFP)

Sowat 135 000 huishoudings hier is reeds sonder krag weens die oorstromings.

Nooddienswerkers het glo regoor Duitsland gesukkel om mense betyds uit geboue te kry en twee brandweermanne is in die proses in die dorpe Altena en Werdohl dood.

Die polisie het ʼn krisislyn opgestel vir mense om vermiste geliefdes aan te meld en inwoners is gevra om video’s en foto’s in te stuur wat nooddienste tydens grootskaalse soektogte kan bystaan. Die Duitse weermag het ook sowat 400 soldate in Duitsland en NRW ontplooi om te help met reddingspogings.

In die stad Leverkusen het ʼn kragonderbreking veroorsaak dat ʼn hospitaal met 468 pasiënte ontruim moes word. Stadsowerhede het egter gesê dat intensiewesorgpasiënte na ander fasiliteite geskuif is en dat die res van die hospitaal deur die loop van die dag skoongemaak sal word.

Kesseling, Duitsland. (Foto: Ferdinand Merzbach/AFP)

Buurlande ook verwoes

België, wat aan Duitsland grens, het ook die afgelope paar dae swaar reën gehad wat veroorsaak het dat riviere in die streek Wallonië hul walle oorstroom het en die lewe van vier mense geëis het.

Die Luik- en Namur-provinsies en die naburige dorp Spa is ook heeltemal oorstroom. Byna 1 800 mense moes uit die stad Chaudfontaine ontruim word.

“Ons het nog nooit sulke magtige oorstromings beleef nie,” het Daniel Bacquelaine, burgemeester van Chaudefontaine, gesê.

Dele van België is ook oorstroom. (Foto: Franqois Walschaerts/AFP)

België se Infrabel-spoorwegnetwek het gesê hulle het tydelik dienste in die suidelike helfte van die land opgeskort, gegewe die risiko om in dié gebied te reis.

“Dit is onmoontlik om die veilige vervoer van passasiers te verseker,” het Georges Gilkinet, minister van vervoer, gesê.

Die Suid-Nederlandse provinsie Limburg, wat aan Duitsland en België grens, het ook groot skade gerapporteer met stygende water wat dreig om die stad Valkenburg heeltemal te oorstroom. Klein riviere water loop reeds deur dié stad en een tehuis is reeds ontruim. Talle paaie in die gebied is ook gesluit.

Dit is nog onduidelik wat die omvang van die skade in dié lande is of wanneer dit sal ophou reën. Die dodetal styg ook steeds.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Maggies ·

Dit is ongelooflik hartseer om te sien wat in die wêreld aangaan.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.