Oorwinning vir Sosiaal-Demokrate; onsekerheid wink

Angela Merkel, die Duitse kanselier. (Foto: Markus Schreiber, AP)

ʼn Tydperk van politieke onsekerheid lê vir Duitsland voor nadat die Sosiaal-Demokrate (SPD) die nasionale verkiesing naelskraap gewen het en Maandag al met koalisie-onderhandelinge begin het om ʼn nuwe regering te vorm. Die SPD het die federale verkiesing die eerste keer in 16 jaar gewen.

Angela Merkel, die Duitse uittredende bondskanselier, se konserwatiewe party, die Christen-Demokratiese Unie (CDU), was sedert 2005 in Duitsland aan bewind.

Die CDU het net-net teen die SPD verloor. Voorlopige amptelike uitslae toon die SPD het 25,7% van die stemme getrek teenoor die 24,1% van die CDU.

Die Groenes het 14,8% stemme gekry, gevolg deur die Vrye Demokratiese Party (FDP) met 11,5%. Steun vir die verregse party Alternatief vir Duitsland (AfD) het van 13% in 2017 tot 10,3% vanjaar gedaal.

ʼn Nuwe bondskanselier sal ook na verwagting ná die koalisie-onderhandelinge gekies word.

Olaf Scholz, minister van finansies, wat die veldtog vir die SPD gelei het, het beklemtoon dat Duitsland “stabiel” sal bly, selfs as partye worstel om koalisievennote te vind.

Hy sê hy hoop om voor Kersfees ʼn drieledige koalisieregering te vorm met die Groenes en die FDP.

Dit is egter makliker gesê as gedaan omdat dié twee partye politieke verskille toon en ook in siening van die SPD verskil.

Christian Lindner, leier van die FDP, het gesê dat dit die beste vir sy party is om eers met die Groenes gesprekke te voer weens die begeerte van albei partye vir ʼn “verandering in die status quo”.

ʼn Verandering in Duitse politiek

Euronews berig ná afloop van die verkiesing beweeg kiesers weg van die twee hoofstroompartye na kleiner partye.

Daar is nou vyf politieke partye met tussen 10% en 25% van die stemme, wat die vorming van koalisie baie moeiliker maak, en die SPD se “naelskraap oorwinning” beteken nie noodwendig dat dié party die oorhand het nie.

“Terwyl die Sosiaal-Demokrate gewen het, sou hul uitslag ʼn bietjie meer as tien jaar gelede as ʼn ramp beskou gewees het,” meen Matthias Dilling, ʼn dosent aan die Universiteit van Oxford.

“Net so, hoewel die CDU steeds die volgende regering kan lei, is 24% verreweg hul swakste resultaat in ʼn verkiesing.”

Dit bring die kleiner partye, wat albei hul setels in die verkiesing aansienlik verhoog het, ook in die prentjie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Samuel ·

Die Duitsers sal, soos altyd, hulle verskille bylê en ‘n stabiele regering daarstel.

Werner ·

Geen onsekerheid dit is n eerste wereld land.Dink hulle is beter af sonder Merkel.Sy het Duitsland vir die wolwe gegooi .

Harley Davidson ·

Ek stem saam met haar immigrasie beleid wat Duitsland nog groot skade gaan berokken.

annie ·

Daar is geen Christenskap in Merkel se ou party nie… Inteendeel, sy het meer vir mense van Islamitiese oortuigings gedoen. Haar aksies was soortgelyk aan dié van die onderhandelaars wat SA oopgegooi het vir die droom van saambou. Jihad vorm deel van die Moslem-geloof se kern, naamlik die uitwissing van oa die Christendom. Hoe sou ‘saam’ dan slaag, volgens Moekie Merkel?

Christian ·

Jou kommentaar oor Christenskap in die CDU party is feitlik verkeerd. In die Noorde van Duitsland is Christenskap van minder belang maar in die Suidelike helfte is Christenskap nog ‘n groot deel van mense se lewens insluitend in politieke kringe. Merkel het ‘n uitstekende humanitêre diens verrig; dit was nie maklik om almal in die wêreld gelukkig te hou nie, maar ek dink sy het ‘n goeie balans gevind om mense uit ‘n oorlog geteisterde land te help en haar land te beskerm. Vir ‘n politikus in die moderne tyd het sy baie meer oorwinnings agter haar naam as swart merke. Die meerderheid van Duitsers het ‘n baie positiewe opinie oor Merkel. Ek dink nie ‘n mens sal haar 10 uit 10 gee nie maar by verre is sy een van die beste moderne staatshoofde wat die wereld al gesien het.

JohanR ·

Oorwinning vir koalsie van DA, VFPlus, IFP en kleiner partye. Onsekerheid wink vir die ANC wat net 35% van die stemme op hom kon kry. Alhoevel die EFF 9% van stemme gewerf het, is Julius Malema nie genooi na die koalisie nie.

VaalDonkie ·

Die Christen-Demokrate was nie Christen OF demokraties nie. Ou Muthi Merkel is in Oos-Duitsland gebore, en haar ystervuis kom agter die ystergordyn uit.

agnes ·

Hulle gaan dieselfde paadjie loop as America met al die probleme van n “vrye wereld”

Wat op dees Aarde ·

En dis hoekom dit vir ons só belangrik is om die 1ste November te gaan stem. Om weg te bly help die land niks.

Leeuwyfie ·

Absoluut. Diegene wat die teendeel praat, het opgegee nog voor die resies begin het, of het kwade bedoelings. Ons weet ons sal nie wen nie, maar met koalisies staan ons ‘n kans, met mense in die parlement wat hopelik ons kant sal stel. Dis ons pad, totdat daar eendag ‘n beter oplossing kom. Mag jou wyse woorde versprei onder ons volk.

Ben ·

Liewe Maroelamedia redakteur en joernaliste,
Motiveer asb vir ons rustig rasioneel hoekom net een van die partye met ‘n skeldnaam gestigmatiseer word.
Naamlik: “verregs” vir Alternatif fur Deutchland.
Al die ander wat links en’ verlinks’ is is blykbaar meer aanvaarbaar?

Dirk Mostert ·

Europa het reeds ‘n energie-krisis wat gaspryse die hoogte in jag, weens die uitfasering van fossielbrandstowwe. Groenkrag is sporadies en kom nie die paal op nie. Ek sal terugsit en die komende noordelike winter se krag-ontwrigting geniet.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.