Oorwinningsparade glo in beleërde Marioepol beplan

Só lyk Marioepol nou. (29 April) (Foto: Andrey BORODULIN / AFP)

Oekraïne het Rusland Woensdag daarvan beskuldig dat hy beplan om ʼn militêre parade op Oorwinningsdag (9 Mei) in die beleërde stad Marioepol te hou om die oorwinning oor die Nazi’s in die Tweede Wêreldoorlog te vier.

“Marioepol sal ’n sentrum van ‘viering’ word,” het Oekraïne se militêre intelligensie in ’n verklaring op sosiale media gesê.

Luidens die verklaring word sommige van die hawestad se strate nou dringend skoongemaak en word puin, liggame, artillerie en ammunisie wat nie ontplof het nie verwyder.

Die Russiese minister van verdediging, Sergei Shoigu, het egter tydens ’n inligtingsessie oor die weermag se planne vir Oorwinningsdag geen sprak gesprook oor die beplande parade in Marioepol nie.

Volgens Shoigu sal Oorwinningsdagparades in 28 stede plaasvind. Ongeveer 65 000 mense, 2 400 stukke militêre toerusting en meer as 400 vliegtuie sal by die parades betrek word.

Russe vier elke jaar Oorwinningsdag op 9 Mei met militêre parades en openbare geleenthede ter herdenking van die Sowjetunie se oorwinning oor Nazi-Duitsland in die Tweede Wêreldoorlog.

Pres. Wladimir Poetin van Rusland het in Februarie met sy land se inval van Oekraïne gesê die “militêre operasie” het ten doel om sy pro-Westerse buurman te “demilitariseer en te de-nazifiseer”.

Aanvalle duur voort

Die Oekraïense weermag het Dinsdag gesê Russiese magte het ʼn reuse-aanval op die Azovstal-staalaanleg in Marioepol geloods, kort nadat die VN en Rooikruis bevestig het dat meer as 100 burgerlikes uit die aanleg verwyder is.

Die Kremlin het egter Woensdag ontken dat Russiese magte die aanleg aangeval het.

Altesame 21 burgerlikes is intussen dood en 28 ander gewond tydens die jongste Russiese aanval in die Donetsk-streek van Oekraïne.

Tien van dié burgerlikes het Dinsdag omgekom toe ’n aanleg in dié streek geteiken is. Streeksgoewerneur Pavlo Kyrylenko het gesê dié daaglikse dodetal is die hoogste sedert ʼn Russiese aanval op ʼn treinstasie in Kramatorsk sowat ʼn maand gelede.

Verbod op Russiese olie

Ursula von der Leyen, president van die Europese Kommissie, het Woensdag gesê die kommissie sal ʼn geleidelike verbod op Russiese olie instel as deel van nuwe sanksies om Rusland te straf vir sy inval van Oekraïne.

“Ons sal die Russiese aanbod van ru-olie binne ses maande en verfynde produkte teen die einde van die jaar uitfaseer,” het Von der Leyen aan die Europese parlement gesê.

In ʼn dokument wat AFP onder oë gehad het, stel Von der Leyen voor dat Hongarye en Slowakye, albei uiters afhanklik van Russiese olie, meer tyd gegun word om die verbod na te kom.

Von der Leyen het ook voorgestel dat sanksies teen die hoof van die Russies-Ortodokse Kerk, patriarg Kirill van Moskou, ingestel word, en dat die Russiese bank Sberbank uit die Swift-bankstelsel uitgesluit word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

annie ·

Ons glo alles wat uit Zelensky se mondjie kom… Alles. Soos ons alles glo wat uit Superman se mond kom en uit Biden s’n en uit al die New Agers s’n. Nog iets?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.