Oostenrykse skiër oorleef sneeustorting wonderbaarlik

Argieffoto (Foto: Josef Pichler/Pixabay)

ʼn Man van Oostenryk het wonderbaarlik oorleef toe hy tydens ʼn sneeustorting eers ná vyf ure onder die sneeu uitgehaal is.

Stefan Schroeck, adjunkhoof van die bergreddingspan in Oostenryk, het gesê die oorlewingskoers vir slagoffers daal dramaties ná die eerste 15 minute, en dié man se saak is dus ʼn buitengewone geval.

Die polisie is Woensdag ontbied ná die 26-jarige skiër nie van die Pleschnitzzenken-piek teruggekeer het nie.

Die bergreddingspan het teen die aand die skiër opgespoor onder een meter sneeu omdat hy ʼn sneeustorting-sender gedra het wat kort-kort ʼn sein uitstuur, het Schroeck aan die Oostenrykse uitsaaier ORF gesê.

Die man was by sy bewussyn, maar het aan verkluiming gely, het die polisie gesê.

Hy het oorleef danksy ʼn holte lug wat hom in staat gestel het om asem te haal, selfs al was hy onder die massa sneeu vasgekeer, aldus Schroeck. “Hy was baie, baie gelukkig.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.