Opening van Namibiese private skole wéér op die nipper gestuit

Wouter Niehaus.

Leerders van private laerskole in Namibië wat vandag sou terugkeer skool toe, het gisteraand ter elfder ure gehoor dat hulle hul nie meer kan beroep op die regulasie wat hul terugkeer skool toe moontlik gemaak het nie.

Met dié aankondiging sit talle kinders wat honderde kilometers gereis het om vir vandag se heropening van skole in die koshuis te wees, gestrand in hul koshuise.

Volgens Die Republikein sou ʼn skuiwergat in proklamasie 48 van die noodtoestand dit vir private skole landswyd moontlik maak om vir alle grade te heropen, en ingevolge daarvan het private skole reg oor die land voorberei om vandag weer hul leerders in die skoolbanke te ontvang.

Die Namibiese president, Hage Geingob, het egter ʼn stokkie voor dié planne gesteek deur Sondag proklamasie 49 uit te reik, wat bepaal dat die Namibiese minister van onderwys, kuns en kultuur, Anna Nghipodoka, se aankondiging vroeër verlede week oor die gedeeltelike infasering van kontakonderrig in openbare skole nou op alle skole, insluitend private skole, van toepassing is.

Talle laerskoolkinders van private skole wat op dorpies en plase honderde kilometers van hul skole af woon en in koshuise tuisgaan, se ouers het permitte bekom om hul kinders gister oor provinsiale grense terug te neem koshuis toe – net om Sondagaand ongeveer 19:30 te hoor dat skole nie meer mag oopmaak nie. Dis reeds die derde keer sedert die uitbreking van die Covid-19-pandemie in dié land dat die Namibiese regering op die laaste nipper aankondig dat skole wat sou geopen het, nie meer mag open nie.

Volgens Wouter Niehaus, uitvoerende hoof van die Namibiese privateskoleorganisasie (Napso), sal dié organisasie egter met alles tot sy beskikking veg vir kinders in hul skole se reg om op die skoolbanke te wees, en is hulle gereed om met hul regspanne te konsulteer oor volgende stappe wat geneem kan word.

“Dis vir ons ʼn geweldige teleurstelling,” sê Niehaus. “Ons sal volgens die wet handel en hou by die proklamasie, maar terselfdertyd gaan ons veg om ons kinders terug in die skool te kry, waar hulle hoort.”

Die Namibiese regering het op 28 Augustus met proklamasie 48 die beheerliggame van private skole die reg gegee om self te besluit of hulle gereed is om te open vanaf 7 September. Die enigste manier hoe dié regulasie gewysig sou kon word, sou wees indien die president self die regulasie wysig en dit voor middernag op 6 September in die Staatskoerant publiseer – wat toe inderdaad gebeur het.

“Dis skokkend wat hierdie besluite aan ons kinders doen,” sê Niehaus. “In die moeilike finansiële tye waarin ons is, moet albei ouers werk, wat beteken laerskoolkinders is sonder toesig alleen tuis en in die strate. Ons sien die gaping wat besig is om in kinders se opvoeding te ontstaan en die sosiale en sielkundige effek wat die onsekerheid op ons kinders het.

“Voeg daarby die logistieke uitdagings wat ʼn besluit soos hierdie op ouers het: Sommige ouers woon op plase tot 600 km van die skool af en ry reeds op ʼn Sondag om hulle kinders terug te neem koshuis toe. In uiters moeilike finansiële omstandighede gaan hulle uitgawes aan om hulle kinders voor berei vir die eerste week terug in die skool en koshuis. Nou moet hulle wéér brandstof uitry om hul kinders te gaan haal.”

“My oudste seun, Brinck (12), het so teen 19:00 gisteraand gesê hy twyfel of hy sal kan slaap, so opgewonde is hy om weer sy maats te sien,” vertel Nita Coetzee, ʼn ma van Windhoek wie se kinders in die Windhoek Afrikaanse Private Skool (WAP) is. “Hy was amptelik een dag by die skool sedert Maart. Uiteindelik is almal gisteraand in die bed. Laataand bars die bom toe ons ʼn boodskap van WAP se uitvoerende hoof kry dat die skool nie meer mag oopmaak nie… Eras en Gerber het net stil-stil omgedraai en na hul kamers gegaan – geen woord, geen trane, net gaan lê. Brinck was in trane, en dan huil ʼn mamma maar saam met haar 12-jarige ampertiener-seun…”

Die 10-jarige Carli van Aswegen van WAP se skooltas en masker staan gereed vir haar eerste skooldag ná die inperking. Foto: Nantie van Aswegen.

Vir die tienjarige Carli van Aswegen, ʼn gr. 4-leerder van WAP, was dié aankondiging net so ʼn reuseteleurstelling. “Haar tas was gepak, skoolkosblikkie het reggestaan in die yskas, en haar skoon masker, rokkie, skoene, kouse was alles netjies gereed gesit,” vertel haar ma, Nantie van Aswegen. “Sy was Maart laas by die skool en kon nie wag nie. Maar daar skuif die doelpale weer. Carli was in trane… Sy het gisteraand haar een stukkie oorskietpizza in haar skoolkosblik gebêre. Terwyl die trane loop, het sy haar kosblik gaan uitpak en haar stukkie pizza warm gemaak. Vandag is my woorde op…”

Ingevolge die regering se regulasies mag net gr. 10 tot 12 in alle Namibiese streke voortgaan met kontakonderrig, berig Die Republikein, terwyl gr. 7 tot 9 in alle streke behalwe die Khomasstreek ook vandag kan terugkeer skool toe. Die res van die grade word in die komende drie weke ingefaseer.

Maroela Media het vroeër berig die toekoms van Afrikaanse private skole in Namibië is in gedrang as gevolg van die finansiële impak van die Covid-19-pandemie en landswye afsondering op dié land.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Kokerboom ·

Niks maak meer sin. Tyd is in elk geval nie ‘n factor in Afrika

Louise ·

Al wat hulle hierdeur bereik is om met ons kinders se toekoms te mors en hulle verval al hoe meer in depressie.

Anoniem ·

Dit is baie jammer dat dit gebeur het. Die mense wat hierdie besluite geneem het besef nie wat dit aan veral kinders doen nie. Ek hoop van harte dat daar .n oplossing sal kom!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.