Opera-ikoon Montserrat Caballé oorlede

Montserrat Caballé (Foto: Tiramillas)

Die operasangeres Montserrat Caballé, wat die duet “Barcelona” saam met Freddie Mercury gesing het, is Saterdag in die ouderdom van 85 oorlede.

Caballé sukkel al ʼn geruime tyd met haar gesondheid en sy is verlede maand in ʼn hospitaal in Barcelona opgeneem, aldus nuusagentskap Efe. Sy is in die hospitaal oorlede en haar begrafnisdiens sal na verwagting Maandag plaasvind. Sy het in 2012 ʼn beroerte gehad en het sedertdien met haar gesondheid gesukkel.

Sy het in die Basel Opera en Bremen Opera gesing voor haar internasionale deurbraak in 1965 in Lucrezia Borgia by Carnegie Hall in New York. Sy het ook in die Metropolitaanse Opera, San Francisco Opera en Weense staatsopera gesing, onder andere saam met Luciano Pavarotti en Placido Domingo.

“Barcelona” is in 1987 vrygestel en het later die kenwysie geword vir die stad se Olimpiese Spele in 1992.

Caballé het tydens haar loopbaan van meer as 50 jaar wêreldwyd gereis.

Sy het twee kinders saam met die Spaanse tenoor Bernabe Marti. Hulle is in 1964 getroud.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Casper Labuschagne ·

Ek raak wragtig oud, die sangers en sterre wat ek nog altyd bewonder het val hier om my, dit voel vir my kompleet asof iemand besig is om in my bos te kap. Montserrat was inderdaad ‘n befaamde opera sangeres en sy was uniek in vele opsigte maar ook dat as sy die dag al die stoppe uittrek, dan sing sy die orkes dood.

Leeutjie ·

Waar ek in die verlede vir lekkernye geshop het dwaal ek nou rond om medikasie te soek vir pyne wat landingsplekke soek…

Ander Annie ·

‘n Legende. Ek kan oor en oor en oor luister na “Barcelona” wat sy saam met Freddie Mercury sing. Pragtige vrou met ‘n wonderlike stem. Rus sag pragtige vrou met die Engel stem. Jy laat soveel mooi musiek vir ons na.

Sieg ·

Rus in vrede waardige sanger jy het baie mense se harte bekoor.

Papa G ·

‘n Legende! Sy het altyd op al haar silinders gevuur. Suiwer, skoon en verpletterend beeldskone klank!

Katerina ·

Baie mooi vrou met n formidabele stem, n “powerhouse”. Rus sag Montserrat.

Johann cb ·

Nog ‘n wonderlike ikoon is weg! Gelukkig het ek/ons haar nagedagtenis wat voortleef! Die opname van “Barcelona” saam met FM, is een van my kosbaarste besittings! Rus sag, skone dame!

Elvira ·

Rus in vrede. Wonderlike musiek van jou geluister. Jy en Freddie Mercury was n fantastiese sangpaar.

Loot ·

Haar fenominale stem is nou vir altyd stil. Die laaste van die groot divas ‘n Groot verlies. Rus in vrede mme Caballe.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.