Oplaas skyn daar ’n lig in Afrika

John-Magufuli

John Magufuli. Foto: Tanzaniatoday.co.tz

Die geskiedenis van swart Afrika skep baie morbiede leesstof, maar dit lyk of daar uiteindelik ’n leier op die toneel verskyn het wat dinge in sy land wil regruk. Sy naam is John Magufuli, nuutverkose president van Tanzanië.

Afgesien van sy hele rits hervormings het Magufuli ’n paar dae gelede ook ’n sewe dae lange ultimatum gerig aan sakemanne om die belastings wat hulle ontduik het te betaal.

Daar word tans ondersoek ingestel na die eienaars van houers wat uit die hawe van Dar es Salaam verwyder is sonder dat die belasting van TZS80 miljard betaal is (daar is 150 Tanzaniese sjielings in ’n rand).

Sedert hy die bewind in Oktober met ’n meerderheid van 58% oorgeneem het, het die voormalige kabinetsminister alle buitelandse vlugte vir amptenare gekanselleer en net hy, sy adjunk en die premier mag eersteklas vlieg. Werksessies en vergaderings van die regering moet nou in regeringsgeboue pleks van duur hotelle gehou word. Die afvaardiging van 50 mense wat ’n besoek aan Statebondslande gaan bring, is tot net vier afgeskaal.

Reis per pad

Toe hy vir die parlementsopening van Dar na Dodoma moes reis, het hy nie ’n private straler gehuur nie, maar die afstand per pad afgelê.

Magufuli het ook opdrag gegee dat ’n Wêreldvigsdag-uitstalling gekanselleer en die geld aan medisyne vir vigslyers bestee moet word. In ’n opspraakwekkende optrede is ’n aantal amptenare ’n paar uur lank in die tronk gestop omdat hulle drie uur laat was vir ’n vergadering wat om agtuur moes begin. Die vergadering is herskeduleer en die skuldiges het toe twee uur vroeg opgedaag.

Die president het ook te voet by regeringsministeries opgedaag en wou weet waarom daar so baie leë lessenaars is. Hy het ook by ’n chaotiese hospitaal ingestap, die hoof summier afgedank en die hospitaalraad ontbind omdat pasiënte op die vloer geslaap en beddens gedeel het, en diagnostiese toestelle stukkend was. ’n Paar dae later is 300 beddens en lakens daar afgelewer en was die MRI-toestel herstel.

Dis ‘n skande dat ons ’n klomp geld bestee om 54 jaar se onafhanklikheid te vier terwyl ons mense van cholera sterf. – president John Magufuli

Die president het ook die onafhanklikheidsvieringe gekanselleer en beveel dat die tyd en die geld hiervoor bestee moet word aan die skoonmaak van strate en die verbetering van sanitasie om die uitbreek van cholera teen te staan. Hy het ook die begroting vir die uitspattige staatsbanket met die opening van die parlement met 90% gesny. Die balans is opsygesit om beddens en matrasse vir die Muhimbili Nasionale Hospitaal te koop. Die gebruik van staatsgeld vir die druk van Kers- en Nuwejaarskaartjies is ook stopgesit.

Tanzaniërs kla voortdurend oor die lang teebreuke van amptenare en die wyse waarop hulle hul status in die arm land van 47 miljoen mense misbruik.

Dit lyk of Magufuli se naam as tugmeester en ordehouer ook na lande soos Nigerië en Senegal begin uitkring.

John Magufuli is 56 jaar oud, sedert 1995 al in die parlement en het verskeie kabinetsposte beklee. As minister van werke het hy die bynaam Tinga Tinga (“The Bulldozer”) gekry vir die wyse waarop hy ’n padnetwerk oor die hele Tanzanië tot stand laat bring het. Hy het die graad PhD aan die Universiteit van Dar es Salaam verwerf.

  • Org Potgieter is ’n vryskutjoernalis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Paul ·

So jy is van mening dat dit goed is indien regerings meer belasting inkry? Met regerings se rekord van besteding van geld wat soveel beter is as besighede?\
En dat hy arbitrêr, buite regsbeginsels, optree deur mense wat laat is, sommer net in die tronk te stop?

Dis een ding om “skoon te maak” en ‘n ander ding om konsekwent binne die reg op te tree en opsy te staan dat besighede welvaart kan skep.

Gerhard v D ·

Hoop nie nie dis n kwessie van: “Nuwe besems vee skoner” nie. Daar kan n hele paar by hom gaan lesse neem oor hoekom hy nou eintlik in daardie posisie is, en dit is om sy land te dien. Nie soos sekere andere nie

Rupert Ashford ·

Het jy dalk ‘n paar houers iewers in die noorde? Regerings moet kry wat wettiglik hulle toekom, en soms moet ‘n bestuurder hard optree om mense hulle werk te laat doen.

Akram ·

Ek bly in Dares salaam. die laaste maand het daar baie gebeur soos berig word. Mense in top poste is ontslaan en nuwe direksies is aangestel. hy kondig nie aan as hy n dep wil besoek nie. stap net onverwags in. hy is ten gunste van verandering en wil nie gld mors nie. hy het ook gese dat daar is tegnologie en mens kan in jou kantoor sit en n konferensie bywoon. hy het die inkomste diens skoongemaak, die hawe se DG vervang. die staats hospitaal halfpad al reg geruk. gister was skoonmaak dag. almal het gehelp. die slote is skoongemaak. baie mense hoop dat hy dit so sal hou en dat nie net n foefie is nie. 1 us$ is nou tSH 2142.persoonlik dink ek daar is nou baie depatemente wat op naalde sit.hy het nog nie sy kabinet aangestel nie. opdie staduim is dit die Pres, adj Pres, eertse min en die prok genl wat die land beheer. hy sal sekerlik n kleiner pesentasie ministers aanstel.heelwat van die oposisie ondersteun hom ook nou. kom ons kyk of hy dit kan volhou.

Genis ·

Politiek is nie ontwerp om ‘n oplossing te hê nie. As daar ‘n oplossing was sou verkiesings en die hele narre-klug wat daarmee saamgaan mos wegval, en dit mag nie gebeur nie. Maar almal dink as hulle net vir die regte kandidaat stem, as hulle net harder stem, sal dinge verander. Ons ouers en hulle ouers het dieselfde fout gemaak. Niks sal ooit verander nie. Politiek is nie geskep om jóú te dien nie.

Johan ·

Ek bly ook in Dar es Salaam en dit wat tans hier gebeur is ‘n opflikkering van lig in ‘n land waar daar min hoop was. Hierdie President se doen en late word orals waardeer. Die land is besig om te herstel en ek wil glo dit gaan blywend wees en dat dit nie net ‘n kwessie is van ‘n nuwe besem nie. Hy is beslis besig op korrupsie vas te vat.

JOHAN ·

Kan ons nie asb ons ANC regering soontoe stuur om te gaan leer nie. Hulle kan selfs belasting geld gebruik as hulle net mooi oplet in die klas!!

Jakoba ·

Og Johan die ANC sal daardie regering binne ‘n week korup maak. Wie wil nou so ‘n korupte spul in jou land wil he. Nog minder sal die ANC luister en leer.

Meraai ·

Ditto, Johan! Knap gedaan President Magufuli! Weereens ‘n bewys dat die bekwaamste en nie noodwendig die gewildste kanidaat aangestel moet word om die werk gedoen te kry!
ANC: “Look and learn!”

Ronnie Bezuidenhout ·

Sjoe! Dink julle ons kan ons kabinet stuur vir lesse? En kan daardie dokters onse Zumpie se lag ook uitsny?

Grassie ·

Ek moes die berig twee keer lees om seker te maak dit is nie ‘n gekskeerdery nie. Ek het nie geweet so iets is moontlik in Afrika nie. Hier by ons? Helaas – hier is die minister van finansies summier in die pad gesteek omdat hy onnodige geldmorsery net so ‘n bietjie wou inkort.

CB ·

Met alle respek EK haal my hoed af. Mag hy altyd so n opregte mens bly. Mag hier deel van africa n voorbeeld wees vir almal wat n land wil regeer EN n nasie wil ly.

KarooKlong ·

Ek skenk ‘n vliegkaartjie (enkel) vir zumpie na Dares Salaam.

Akram ·

NEE DANKIE……. hahahahaha, hy sal moontlik heeltyd net giggel.

Johannes Meintjes ·

Mens moet moontlik maar die “nuwe ligpunt-tendese” eers vir ‘n jaar of twee dophou. Sodra die nuwe besems deur die groot “aardsmagte” onder hande geneem is, bietjie sakgeld begin verdien, “ingelyf” is en hul eie mense asook hulpbronne begin uitverkoop, is alles in Afrika gou weer terug na “normaal”, – soos ook o.a. met die ANC.

Eddy Johnstone ·

Hy maak die volk sag en die koffers vol. kom ons kyk wat gebeur dan.

rhenier ·

Ons mense in R.S.A. is al jou so vuisvoos geslaan met geen dienslewering , blatante korrupsie en so meer dat ons self agterdogtig en pessimisties is en nie n goeie leier soos Tanzanie se John Magufuli die krediet gee vir die uitmuntende werk wat hy in sy land doen nie. My hartsbegeerte dat Suis Afrika so n leier in die onmiddelike toekoms gaan kry wat die mense van die land dien en nie homself nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.