Optog na Mugabe se huis is ‘hoogverraad’

Pres. Robert Mugabe van Zimbabwe

Pres. Robert Mugabe van Zimbabwe

ʼn Groep wat glo ʼn optog sou organiseer om Saterdag na pres. Robert Mugabe van Zimbabwe se staatshuis op te ruk om sy bedanking te eis, het ontken dat hulle op sosiale media ondersteuning vir dié aksie versoek het.

Boodskappe onder die hutssleutel #Tajamuk het gesê lede en ondersteuners sou by die Afrika-eenheid-plein bymekaarkom om die 92-jarige president se bedanking te eis, maar die groep het Vrydag ontken dat hulle enigiets met die boodskappe te doen het.

“Dit is verraderlik om na die staatshuis op te ruk, en ons gaan nie aan verraderlike aktiwiteite deelneem nie,” het Sten Zvorwadza, woordvoerder van die groep, gesê. “Ons is nie deel van daardie agenda nie, maar ander individue wat daarop gefokus is om ons beeld skade te berokken deur ons met gewelddadige aktiwiteite te koppel, het met dié plan vorendag gekom.”

Zimbabwe is die afgelope week deur gewelddadige betogings geruk toe die regering ʼn verbod geplaas het op die invoer van basiese voedsel en ander kommoditeite van Suid-Afrika. Oorgrenshandelaars het by die Beitbrug-grenspos betoog.

Die betogings, wat in sommige gebiede met geweld gepaard gegaan het, het van Beitbrug na Harare, Bulawayo en Victoria Falls oorgespoel.

Die betogings het Woensdag geëskaleer toe onderwysers oor agterstallige betalings begin betoog het. Die staking het saamgeval met ʼn versoek deur ʼn groep onder leiding van pastoor Evan Mawarire, wat as #ThisFlag bekend staan, vir werknemers om van die werk af weg te bly. Mawarire se veldtog, wat die probleme van Zimbabwiërs uitlig, het grond begin wen op sosiale media.

Alhoewel geen politieke party homself nog tot die voortslepende onrus verbind het nie, het #Tajamuka krediet aanvaar vir die toenemende weerstand teen die regering se wette wat talle Zimbabwiërs verarm.

Maroela Media het Vrydag berig dit wil voorkom of die regering toegewings begin maak het ná berigte in staatsmedia dat die invoerverbod hersien word.

Patrick Chinamasa, minister van finansies, wat in Londen uitgejou is deur Zimbabwiërs wat daar woon, het gesê die invoerverbod het ten doel om seker te maak dat Amerikaanse dollar nie uit die land geneem word nie.

Zimbabwe is tans in ʼn ernstige geldnood en meeste banke kan nie transaksies prosesseer nie.

Die regering het gewaarsku dat hy persone gaan vasvat wat verdeeldheid saai, veral diegene wat sosiale media gebruik om “ondermynende boodskappe” te stuur.

Zvorwadza het gesê hy, Promise Mkwananzi van #Tajamuka en pastoor Mawarire word deur staatsekuriteitsagente geteiken dat hulle die betogings lei.

Mawarire het aangedui hy is van voorneme om weer werknemers te versoek om van die werk af weg te bly.

“Die idee dat mense van Afrika-eenheid-plein opruk na die staatshuis is die aktiwiteite van vyande wat ons beeld skade wil berokken en wat poog om ons te beskuldig van hoogverraad en misdadigheid, iets waarvan ons nie deel is nie,” het Zvorwadza bygevoeg.

Hy het persone teen die betoging gewaarsku en gesê #Tajamuka sal slegs aan vreedsame betogings deelneem.

Die vurige aktivis het egter gesê dit is onvermydelik dat die land sal afskakel, aangesien almal sukkel en mense word nie die geleentheid gebied om hulself te verdedig nie.

Lees alle vorige berigte oor Zimbabwe op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Lions ·

Seker bang hulle vang hom skelm grassny!!! Of bang hulle kry met die sg derdemag te doen waarvan almal praat.

Bruno Stef ·

Mugabe het voor die 1994 verkiesing op n vraag of die vorige regering van SA genoeg getransformeer het gese”No give them more stick instead of more carrot” Ek wens hom nou dieselfde toe hy sal maar dieselfde roete as Idi Dada Amin moet volg want honger mense sal nie rede verstaan nie veral as die diktator spekvet is nie.

Buks ·

Ons bameer hom tot vir die weer. Hy kan niks aan die droogtes doen nie.

Lance ·

Bob is n groot joke …om te dink toe hy aanbewind gekom het was die zim dollar meer werd as n Britse pond …nou is toiletpapier meer werd ….hoop net nie SA gaan dieselfde pad nie asb

Ander Koos ·

“No offence” Lance, maar as ek gebeure korrek waarneem gaan jou hoop beskaam, SA is reeds op die Zim pad

Jef ·

Daar was eens n politikus wat die uitspraak gedoen het en dit lui so……….As julle party die bevolking dom hou dan hou ons party hulle arm.
Dit is wat nu afgespeel het in ZIM en SA bewandel nu dieselfde weg.

Jan maak n plan ·

Jef jys heeltemal reg. Daar is niks wat n arm en honger bevolking teen n ryk en uitgevreete diktator en sy klomp vet kabinets lede kan doen as om maar net stof op te skop en te raas nie. Al wat hulle kort is n klomp boere wat honger en swaar kry ken en dan het die vet diktator probleme.

John ·

Joann, met hom aan bewind is almal in Zim oppad hierheen. Binnekort sal ons moet koes vir die opperheerser van Afrika se blou-blouligbrigade tussen Pta en Johnny’s, en bewaar ons siele as ons voor hom inry… ‘n klag van hoog-hoogverraad kan dadelik dien voor die grondwethof… en bewaar die regters as hulle…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.