Organisasies bepleit joernalis se vrylating

Hopewell Chin’ono (Foto: Facebook)

Persvryheid- en menseregteorganisasies doen ʼn beroep op pres. Cyril Ramaphosa, as voorsitter van die Afrika-Unie, om in te gryp en die onmiddellike vrylating van die Zimbabwiese ondersoekende joernalis, Hopewell Chin’ono, te verseker.

Chin’ono is op 20 Julie 2020 in sy huis in Harare in hegtenis geneem.

Die organisasies versoek Ramaphosa ook om seker te maak dat joernaliste in Afrika gerespekteer sal word as noodsaaklike werkers tydens die Covid-19-pandemie en dat hulle nie in hegtenis geneem sal word as hulle hul werk doen nie.

William Bird het die skrywe aan Ramaphosa gerig namens die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum (Sanef), die Suider-Afrikaanse Redakteursforum (SAEF), Media Monitoring Africa, Committee to Protect Journalists (CPJ), Freedom of Expression Institute (FXI), SOS Support Public Broadcasting Coalition, Civicus, Institute for the Advancement of Journalism en die Nieman Foundation for Journalism by Harvard-Universiteit.

Volgens Chin’ono se prokureur, Beatrice Mtetwa, is hy sonder ʼn lasbrief in hegtenis geneem en die Committee to Protect Journalists het aangevoer hy staan tereg op aanklag van “aanhitsing tot openbare geweld” en “aanhitsing van die publiek om openbare geweld te pleeg”.

Dit wil egter voorkom of Chin’ono in hegtenis geneem is vir sy beriggewing oor korrupsie en misdade. “Hierdie afskuwelike gedrag deur die Zimbabwiese owerhede kan nie geduld word nie,” het Bird gesê.

“Te midde van die Covid-19-krisis kan die belangrikheid van die media, om hulle werk te doen, nie onderskat word nie. Die media vervul ʼn noodsaaklike rol om seker te maak dat akkurate, regverdige nuus en inligting aan die publiek gekommunikeer word, maar om ook seker te maak dat hulle berig oor misdrywe en diegene wat die chaos van die gesondheidskrisis vir hul eie gewin wil misbruik,” voeg Bird by.

Minstens twee joernaliste is reeds in aanhouding dood ná hulle aan Covid-19 blootgestel is, insluitend Mohamed Monir van Egipte en David Romero van Honduras.

“Ons herhaal ons pleidooi vroeër aan Afrika-staatshoofde om joernaliste, wat te midde van die Covid-19-pandemie in aanhouding is, vry te laat.”

Bird versoek Ramaphosa namens die organisasies om in te gryp en dringend Chin’ono en ander verslaggewers se vrylating te versoek en seker te maak dat joernaliste as noodsaaklike werkers hanteer sal word, soos wat Ramaphosa hulle self geïdentifiseer het.

“Ons sal nie en kan nie ons kontinent se potensiaal realiseer as ons toelaat dat die stemme van sy burgers stilgemaak word nie. Ons sal nooit, as ʼn kontinent, kan sê ons is vry as ons toelaat dat ons joernaliste onderwerp word aan arbitrêre inhegtenisneming nie en ons sal nooit die vertroue en geloofwaardigheid van die mense van die kontinent kan inwin as ons nie seker maak dat ons aan ons eie beleide en verklarings voldoen nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

dave ·

regitig die pres kan nie eers sy land reg ruk nie en in elkgeval het dit niks met suidafrika te doen nie die pres moet sy neus uit ander lande se saake uit hou en na sy eie land begine kyk daai man is van zim en hy is in zim by sy huis ge aresteur en welcome to ourlifes dit het niks maar niks met ons mense uit te waai nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.