Orkaan-dodetal 70 keer hoër as aanvanklik gedink

ʼn Gedenkboek vir Ivette Leon. Foto: Erika P. Rodríguez vir The Washington Post

Die resultate van ʼn Harvard-studie wat Dinsdag gepubliseer is, het aan die lig gebring dat minstens 4 645 mense gesterf het as gevolg van Orkaan Maria en die verwoesting wat dié storm verlede jaar in Puerto Rico veroorsaak het – ʼn skokkende hoër syfer as die regering se amptelike dodetal van 64.

Die verslag wat in die New England Journal of Medicine gepubliseer is, dui daarop dat ontwrigting van gesondheidsorg vir bejaardes en die verlies van basiese nutsdienste vir diegene met chroniese siektes ʼn ingrypende invloed op die land gehad het.

Puerto Rico is verlede jaar in chaos gedompel toe Orkaan Maria die kragnetwerk in die land verwoes en infrastruktuur vernietig het. Sommige gemeenskappe is weke lank van die res van die land afgesny weens paaie wat versper is en kommunikasie-infrastruktuur wat buite werking was.

Die regering se aankondiging van die amptelike dodetal van 64 het wyd kritiek uitgelok en talle het die regering se manier om die aantal mense wat as gevolg van die orkaan gesterf het te bepaal gekritiseer. Kritici het ook gesê die regering se gebrek aan deursigtigheid is nadelig vir beplanning vir toekomstige natuurrampe.

Navorsers van die VSA en Puerto Rico het onder leiding van wetenskaplikes by die Harvard TH Chan School of Public Health en die Beth Israel Deaconess Medical Center, gaan ondersoek instel na die ware dodetal van die ramp deur na 3 300 huishoudings op die eiland te besoek. Dié huishoudings is lukraak geskies.

Hulle het ook die geraamde orkaandodetal vergelyk met die sterftesyfer van die vorige jaar. Die navorsing het aangedui dat die sterftesyfer van 20 September tot 31 Desember 2017 gelykstaande was aan 14,3 sterftes per 1 000 inwoners. Dit is 62% meer as die sterftesyfer van 2016 of 4 645 “ekstra sterftes”.

“Ons bevindings dui aan dat die amptelike dodetal van 64 ʼn aansienlike onderskatting is van die ware getal sterftes ná Orkaan Maria,” lui die verslag.

ʼn Uitsig van die platteland van Caguas, Puerto Rico. Foto: Erika P. Rodríguez vir The Washington Post

Om die dodetal ná ʼn natuurramp te bepaal is altyd ʼn moeilike taak, selfs onder ideale omstandighede. In Puerto Rico was dit nog moeiliker weens stelselgebreke en wat die navorsers bevind het ʼn ingewikkelde metode is om sterftes in die hoofstad, San Juan, te sertifiseer.

Volgens die sentrum vir siektebeheer en voorkoming kan sterftes aan ʼn storm toegeskryf word indien die persone gesterf het weens ʼn direkte oorsaak wat met die storm verband hou soos vlieënde wrakstukke of ʼn verlies aan mediese dienste – in Puerto Rico het die sterftes egter oor maande gestrek.

Een van die mense wat gesterf het weens ʼn gebrek aan mediese dienste is Ivette Leon (54), ʼn ma wat op 29 November gesterf het, net 18 uur nadat sy uit ʼn hospitaal in Puerto Rico ontslaan is. Leon het siek geword, kouekoors ontwikkel, gebraak en erge liggaamspyn ervaar. Dokters het vir haar gesê sy het ʼn infeksie opgedoen, vir haar medisyne voorgeskryf en haar huis toe gestuur.

Miliana Montanez het haar ma vasgehou terwyl sy op die vloer van haar slaapkamer in haar huis in Caguas, suid van San Juan, gelê het, na haar asem gesnak en om hulp gepleit het. Daar was niks wat die gesin kon doen nie. Dit het hulle 20 minute geneem om sein op te spoor om nooddienste te bel. Verkeersligte wat buite werking was het veroorsaak dat die ambulans gesukkel het om by Leon uit te kom weens erge verkeersopeenhopings. Leon het haar laaste asem uitgeblaas voordat paramedici by haar kon uitkom.

Miliana Montanez (29) met die gedenkboek vir haar ma in Caguas, Puerto Rico. Foto: Erika P. Rodríguez vir The Washington Post

Die navorsingstudie dui daarop dat daar duisende ander mense is wat, soos Leon, in die weke en maande ná die orkaan gesterf het, maar nie by die amptelike dodetal getel is nie. Hul sterftes het vrae laat ontstaan oor die manier en integriteit van die wyse waarop die regering in Puerto Rico orkaan-verwante sterftes bepaal en aanteken.

Die regering het nie onmiddellik meer inligting bekendgemaak oor die proses wat beamptes gevolg het om die dodetal ná die orkaan te bepaal nie. Ná druk van die Amerikaanse kongres en statistiese analises van nuusorganisasies wat gemeen het die dodetal meer as 1 000 moet wees, het Ricardo Rosselló, goewerneur van Puerto Rico, die hulp van kenners van die George Washington-universiteit ingeroep om te help om die regering se sterfte-sertifiseringsproses te hersien.

Hy het laat in Februarie tydens ʼn mediakonferensie onderneem dat elke sterfte ondersoek sal word om te verseker dat ʼn korrekte dodetal vir Orkaan Maria bepaal word.

Volgens navorsers het Orkaan Maria $90 miljard se skade veroorsaak en is dit dus die derde duurste tropiese sikloon in die VSA sedert 1900.

Meer as agt maande nadat die orkaan die eiland getref het, sukkel die land steeds om te herstel. Puerto Rico gaan steeds gebuk onder ʼn voortgesette gebrek aan water, onbetroubare elektrisiteitstoevoer en ʼn gebrek aan noodsaaklike dienste – omstandighede wat die lewens in gevaar stel van al die inwoners wat probeer om weer op hul voete te kom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.