Orkaan Elsa stuur af op Florida

‘n Satellietfoto van tropiese storm Elsa teen 6 Julie 2021. (Foto via AFP)

Die tropiese storm Elsa het laat Dinsdagaand orkaansterkte bereik en sal na verwagting die Amerikaanse deelstaat Florida Woensdag tref.

Die Amerikaanse nasionale orkaansentrum sê Elsa het Dinsdag teen 23:00 stormsterk wind met ’n maksimum windsterkte van 120 km/h in die omgewing van Tampa Bay meegebring. Swaar reën en wind sou sedertdien na die suidweste en die sentraalweste van Florida beweeg.

Elsa sal na verwagting deur die loop van vandag Florida tref voordat die orkaan teen Donderdag binnelands na die suidooste van die VSA sal beweeg.

Daar word wel voorspel dat orkaan Elsa ’n weswaartse pad sal volg wat beteken dat Florida hopelik die ergste van die storm kan vryspring.

Die luitenant-goewerneur van Florida, Jeanette Nunez, het nogtans ʼn beroep op inwoners van dié deelstaat gedoen om hulle op Elsa voor te berei. Die storm kan moontlik kragonderbrekings veroorsaak en inwoners word versoek om genoeg kos en water te verseker.

“Indien jy gevra word om die plek te ontruim, moet jy asseblief gaan,” het Nunez gesê. Sy het ook mense daaraan herinner dat noodskuilings gereed staan om gestrande inwoners te huisves.

Elsa het reeds die naweek verwoesting in die Karibiese Eilande gesaai en die lewe van minstens drie geëis.

Elsa is Vrydag aanvanklik as die eerste orkaan van vanjaar se Atlantiese seisoen bestempel voordat sy Saterdag weer tot ʼn tropiese storm afgegradeer is. Elsa word sedert Dinsdag weer as ’n orkaan beskou.

Meer as 100 000 mense in die kus of laagliggende gebiede van Kuba moes hul huise ontruim toe Elsa Maandag dié eiland getref het.

Warmste Junie nóg vir VSA

Intussen word verlede maand as die warmste Junie nóg in Noord-Amerika bestempel.

Die suidweste tot die noordweste van die VSA sowel as dele van Kanada sweet sedert verlede maand weens ’n dodelike hittegolf wat die Copernicus Climate Change Service (C3S) aan aardverwarming toeskryf.

“Hierdie hittegolwe kom nie voor in ʼn lugleegte nie. Hulle vind plaas in ʼn wêreldwye klimaatomgewing wat warm word en die kans op hittegolwe laat toeneem,” het die C3S-klimaatwetenskaplike Julien Nicolas Woensdag gesê.

Junie vanjaar sowel as Junie van 2018 word wêreldwyd as die vierde warmste Junie nóg bestempel.

Verlede maand was ook die tweede warmste Junie op rekord in Europa terwyl Noord-Siberië ook ’n buitengewone warm somer beleef het.

“Die hittegolwe wat ons verlede maand in Noord-Amerika, Wes-Rusland en Noord-Siberië opgemerk het, is maar die jongste voorbeelde van ʼn neiging wat na verwagting in die toekoms sal voortduur en verbind word aan die verwarming van ons wêreldklimaat,” het Nicolas gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

annie ·

Ons kan van groot geluk spreek dat die aarde nie van die son se hitte afhanklik is nie, net van die mens se slim tegnologiese ontwerpe om ons te laat oorleef. Ons moet nou net weer ‘n slim plannetjie bedink om balans te kry. Almal waarvan die EU en die VSA niks van hou nie, moet veral vasgevat word… die sķimmels… Sonskermmiddels is ‘n nonsensspul wat Rusland uitgedink het om die Weste uit vermakerigheid te treiter as deel van hul kamma koueoorlog.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.