Orkaan Irma: Talle sterf reeds, storm woed voort

Orkaan Irma (Foto: AP)

Minstens tien mense van die Karibiese eilande is dood nadat orkaan Irma – een van die grootste storms in die Atlantiese Oseaan in meer as ʼn eeu – Woensdag verwoesting begin saai het.

CNN het vroeër vandeesweek berig dié orkaan sal eerskomende Sondag die vasteland in Florida tref. Groot verwoesting is egter reeds gesaai nadat die orkaan groot dele van die Karibiese eilande en Puerto Rico byna platgevee het.

Volgens mediaberigte veroorsaak dié orkaan stormsterk winde van byna 300 km/h. The Guardian berig verskeie eilande, onder meer Barbuda met sowat 2 000 inwoners én St. Barts wat sowat 10 000 mense huisves, is reeds “heeltemal verwoes” as gevolg van die orkaan. Groot dele van Puerto Rico is in donkerte gehul weens die kragtoevoer wat afgesny is. Minstens 900 000 mense het teen Donderdagoggend geen elektrisiteit gehad nie, terwyl sowat 50 000 mense geen watertoevoer het nie.

Orkaan Irma (Foto: AP)

Buiten vir die tien sterftes, is meer as 50 beserings reeds aangemeld, waarvan 23 inwoners onder meer van die Franse eilande is.

Die Amerikaanse nasionale weerdiens het Donderdag berig Haïti mag dalk volgende deur die orkaan getref word, waarna die Bahamas en Kuba sal volg. Volgens The Independent het die meeste lughawes in die Bahamas reeds gesluit weens die gevaar wat die verwoestende storm inhou. Die laaste lughawe in dié land wat tans nog oop is vir vlugte, is die internasionale lughawe in Nassau, wat glo Donderdagaand sal sluit. Intussen het noodspanne in Haïti inderhaas begin om duisende inwoners te help om te ontruim en hulle na hoërliggende gebiede te neem om hul veiligheid te verseker.

Volgens kenners sal selfs “goed geboude huise” deur die storm platgevee word. Prospéry Raymond, direkteur van die liefdadigheidsorganisasie Christian Aid in Haïti, sê die organisasie is tans besig om honderde mense te huisves in die sowat 160 huise wat die organisasie besit wat glo orkaan-bestand is.

Orkaan Irma (Foto: AP)

Kenners meen dié orkaan hou potensieel nog báie gevaar in, en dat nog talle in die storm kan sterf as hulle nie ag slaan op die waarskuwings om hul huise te ontruim nie.

Intussen is derduisende inwoners van Monroe County in die Amerikaanse deelstaat Florida besig om hul huise te ontruim ná waarskuwings dat dié orkaan die vasteland Sondag sal tref. Owerhede van Monroe County het inwoners en toeriste vroeër vandeesweek gewaarsku om dadelik met ontruimings te begin. Die dorp se rampbestuurspanne is ook op ʼn hoë gereedheidsgrondslag geplaas om te probeer om die skade en lewensverliese so min as moontlik te hou.

Pres. Donald Trump het Dinsdag noodplanne goedgekeur vir dié deelstaat en ander gebiede in die land wat moontlik geraak kan word ná ʼn versoek van die goewerneur.

Weerkundiges het vandeesweek klem gelê op die uiters gevaarlike en ernstige bedreigings wat die orkaan vir dié deelstaat inhou.

CNN berig orkaan Irma is intussen amptelik as ʼn gevaarlike kategorie 5-storm geklassifiseer.

Groot dele van Houston in Texas is steeds in puin nadat orkaan Harvey, wat intussen tot ʼn tropiese storm afgegradeer is, dié staat verlede week getref het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.