Orkaan Irma tref suide van Florida, dodetal styg

Verwoesting wat deur orkaan Irma gesaai is (Foto: Gerben Van Es/Dutch Defense Ministry via AP)

Die verwoestende orkaan Irma het Sondagmiddag die suidelike gedeeltes van die Amerikaanse deelstaat Florida getref.

Volgens die BBC woed winde van meer as 200 km/h in groot dele van dié staat.

Rick Scott, Florida se goewerneur, sê hy is “uiters bekommerd” oor die westelike gedeeltes van die staat aangesien dit glo die ergste geraak kan word deur die orkaan.

Meer as 6,3 miljoen inwoners van Florida is aangesê om hul huise te verlaat weens “lewensbedreigende” omstandighede tydens die orkaan.

Minstens 23 is beseer en agt dood nadat die orkaan in die suide van Florida verwoesting begin saai het. Dit bring die dodetal weens orkaan Irma, waarvan die meeste sterftes nou op die Karibiese eilande en die suide van Florida is, op 31 te staan.

Verwoesting wat deur orkaan Irma gesaai is (Foto: Gerben Van Es/Dutch Defense Ministry via AP)

BBC berig stormsterk winde sal nog tot middernag in groot dele van die staat voortduur. ʼn Kenner het intussen gesê enigiemand wat versuim het om ʼn woonplek te verlaat terwyl die gebied ontruim is, tree op “asof hy sy eie lewe wil neem”.

Meer as 50 000 mense het reeds na skuilingsgebiede in die staat gevlug. In die ergste fase van die storm, wat glo later Sondagaand sal wees, gaan sowat een miljoen huise se water- en kragtoevoer afgesny wees.

Ander gebiede wat reeds deur die verwoestende orkaan getref is, sluit onder meer in Kuba, St. Martin en St. Barthelemy, die Turks- en Caicos-eilande, Barbuda, Anguilla, Puerto Rico, Haiti en die Dominikaanse republiek.

Intussen is daar nóg ʼn orkaan, Jose, in aantog oor die Atlantiese Oseaan en dit sal vermoedelik ook dieselfde gebiede tref. Jose is Saterdagaand as ʼn kategorie 4-storm geklassifeer, net ʼn raps swakker as orkaan Irma. Orkaan Jose het glo St. Martin, St. Barthelemy en Barbuda gemis.

Lees meer oor orkaan Irma op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

VRA MAAR NET ·

Ek verstaan nie.. Ek kyk nou CNN.. Die CNN ouens staan buite en berig.. CNN praat niks van die 8 mense wat dood is nie..Dit sal tog belangringrik gewees het om te berig .

anton ·

As jy na CNN kyk en luister, moet jy weet jy gaan verdraaide, halwe en eensydige nuus ontvang.
Kan nooit op hulle staatmaak vir behoorlike nuus nie.

Dirk Breytenbach ·

Hulle het dalk uit die land gevlug en berig nou vanuit London!!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.