Orkaan Matthew: Dodetal al meer as 800

Orkaan Matthew Grafika: The Weather Channel

Orkaan Matthew Grafika: The Weather Channel

Meer as 800 sterftes is reeds aangemeld nadat Orkaan Matthew Haiti vroeër vandeesweek getref het.

Namate inligting van afgeleë dorpies, wat deur die storm van die res van die land afgesny is, ontvang word, word die getal sterftes al meer. Reuters berig die amptelike dodetal staan tans op 842 en kan na verwagting nog verder styg.

Derduisende mense is dakloos gelaat nadat Orkaan Matthew huise verwoes, brûe laat ineenstort en bome ontwortel het. Gewasse is heeltemal vernietig en die strate is toe onder vloedwater.

Die BBC berig die meeste van die sterftes is aan die suidwestelike kus aangemeld wat die ergste deur die orkaan getref is. Baie van die dorpies kan slegs deur vliegtuie of bote bereik word aangesien verskeie paaie en brûe verwoes is.

Orkaan Matthew, wat vroeër as ʼn kategorie 4-storm geklassifiseer is met windvlae van tot 220 km/h, het intussen die kus van Florida in die VSA getref, maar is afgegradeer tot ʼn kategorie 2-storm nadat die windspoed verminder het tot 177 km/h.

Miljoene Amerikaners moes kusgebiede in drie state in die suidoostelike deel van die VSA ontruim in afwagting op Orkaan Matthew. Die goewerneurs van Florida, Georgia en Suid-Carolina het mense, wat naby die kus bly, opdrag gegee om hul huise te verlaat en so vinnig moontlik na die binneland te beweeg.

Die VSA het vroeër militêre helikopters en ander bystand na Haiti gestuur, terwyl die Verenigde Nasies help om skuiling, water en kos aan die land se mense te voorsien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Marianne ·

Goeie genade die mense moet absoluut vrees bevange wees. Mag God Sy hand oor die lande en hul mense hou.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.