Orkaan Matthew: Dodetal styg skerp

Palmbome op Paradise-eiland in Nassau, Bahamas waai Donderdag (6 Oktober 2016) in die stormwinde wat deur Orkaan Matthew veroorsaak is. Foto: AP/Tim Aylen

Palmbome op Paradise-eiland in Nassau, Bahamas waai Donderdag (6 Oktober 2016) in die stormwinde wat deur Orkaan Matthew veroorsaak is. Foto: AP/Tim Aylen

Die dodetal styg steeds skerp nadat die verwoestende Orkaan Matthew Haiti vandeesweek getref het en nou ook dele van die VSA bedreig.

Meer as 300 mense het reeds omgekom en die dodetal sal na verwagting nog styg. Reuters berig altesaam 339 sterftes is sover bevestig.

Gebiede in die Sud-provinsie, in die suid-westelike deel van Haiti, is heeltemal afgesny van die res van die land. Huise is verwoes, bome is ontwortel en die strate is toe onder vloedwater. Jocelerme Privert, Haiti se president, het die situasie as “katastrofies” beskryf. Na raming het ongeveer 350 000 burgers van die land ʼn behoefte aan humanitêre hulp.

Die VSA het militêre helikopters en ander bystand na Haiti gestuur, terwyl die Verenigde Nasies help om skuiling, water en kos aan die land se mense te voorsien.

ʼn Grafsteen in Les Cayes in Haiti is in stukke gebreek nadat ʼn boom, wat deur Orkaan Matthew ontwortel is, daarop geval het (Donderdag, 6 Oktober 2016). Foto: AP/Dieu Nalio Chery

ʼn Grafsteen in Les Cayes in Haiti is in stukke gebreek nadat ʼn boom, wat deur Orkaan Matthew ontwortel is, daarop geval het (Donderdag, 6 Oktober 2016). Foto: AP/Dieu Nalio Chery

Miljoene Amerikaners moes kusgebiede in drie state in die suid-oostelike deel van die VSA ontruim in afwagting op Orkaan Matthew. Die goewerneurs van Florida, Georgia en Suid-Carolina het mense, wat naby die kus bly, opdrag gegee om hul huise te verlaat en so vinnig as moontlik na die binneland te beweeg.

“Hierdie storm sal jou doodmaak,” het Rick Scott, Florida se goewerneur, tydens ʼn mediakonferensie gesê voordat die orkaan getref het. “Moenie kanse vat nie. Gee nou pad.” Die storm is die grootste en magtigste orkaan wat die VSA in meer as ʼn dekade tref.

Teen 23:00 Donderdagaand is Orkaan Matthew as ʼn kategorie vier storm geklassifiseer met winde van tot 220 km/h, terwyl dit op die ooskus van Florida in Amerika afpyl. Die Amerikaanse nasionale orkaansentrum het gesê om 11:00 (1500 GMT) beweeg Matthew teen ʼn spoed van 22 km/h in ʼn noordwestelike rigting en die oog van die storm is tans 290 km suidoos van West Palm Beach.

Orkaan Matthew Grafika: The Weather Channel

Orkaan Matthew Grafika: The Weather Channel

Peter Cook, ʼn woordvoerder vir die Pentagon, het op Twitter gesê 4 500 troepe van die National Guard is ontplooi om met die ontruiming te help en mense te help om skuiling, kos en water te kry. Intussen het Barack Obama, die Amerikaanse president, ʼn noodtoestand afgekondig vir die hele Suid-Carolina en die grootste gedeelte van Florida.

Dele van Florida wat geraak word, sluit die Kennedy Space Centre in, wat Donderdag gesluit moes word terwyl skade, wat deur die storm veroorsaak is, herstel word. Disney World in Orlando is ook gesluit, slegs die vierde keer in die geskiedenis. Die lughawe by Fort Lauderdale is ook gesluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Sarie ·

Dis skrikwekkend!!! Èk is bang vir die elemente, want wanneer die natuur “kwaad word”, is mens & dier aan sý “woede” uitgelewer…

Markus ·

Ons as ouers van Preotria redelik benoud. Ons kinders – span van 12 meisies in Orlando besig met sagtebal toer.

Heleen ·

Sjoe Markus. Van watter skool is hulle? En het jy al nuus gekry van hulle af oor hul veiligheid?

Marianne ·

Suid Afrika gaan op jou kniee en dank God jy is nie ‘n Natuur ramp ville land nie!
Bid vir die vreesbevange burgers van ander lande.
Vat hande en staan saam!

Stan ·

Ek verkies ‘n ramp bo ons regering! Ons regering doen meer skade as enige tornado.

foxi ·

Oorloë, oorstromings, aardbewings ensv moet kom……maar dit sal nog nie die einde wees nie……

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.