Orkaan Matthew tref Haiti

Orkaan Matthew Grafika: The Weather Channel

Orkaan Matthew Grafika: The Weather Channel

Die kragtigste Atlantiese tropiese storm in bykans ʼn dekade het Dinsdagoggend vroeg Haiti getref waar dié storm moontlik nóg ʼn verwoestende humanitêre ramp kan veroorsaak.

Orkaan Matthew is om 08:00 ET geklassifiseer as ʼn kategorie 4-sotrm met maksimum winde van 233 km/h, volgens die nasionale orkaansentrum. Dit het Haiti net ná 07:00 getref, het die Weather Channel berig.

Kevin Roth, meteoroloog van die Weather Channel, het gesê Haiti se laagliggende dele kan tot 500 mm reën verwag en tot 100 cm in die berge.

Talle inwoners in Les Cayes is Dinsdag sonder elektrisiteit gelaat weens die reën en wind en dakke het begin afwaai.

Chris Bessey, verteenwoordiger van die Katolieke verligtingsdiens in Port-au-Prince, het aan NBC News gesê hy het berigte ontvang oor bome wat omgeval het en beduidende vloede in die strate van die land se suidwestelike kusdorpe.

ʼn Aantal skuilings is in elke groot stad opgerig en inwoners word aangemoedig om daarheen te skuif, het Bessey bygevoeg. Die aantal skuilings kan egter nie almal akkommodeer nie, en talle inwoners bly in hul huise.

Die storm sal na verwagting later na Kuba beweeg, en weervoorspellers sê tussen 200 – 300 mm reën kan in meeste gebiede verwag word tot soveel as 500 mm in geïsoleerde dele.

ʼn Orkaanwaarskuwing is ook vir dele van die Bahamas uitgereik.

Matthew is die kragtigste Atlantiese storm sedert 2007 en kan die Verenigde State later vandeesweek tref.

Alhoewel die impak op die VSA nog onduidelik is, het Bill Karins, meteoroloog van NBC News, gesê die storm kan moontlik in die spore volg van Orkaan Floyd in 1999 – wat vereis het dat 2,6 miljoen mense in vyf state hul huise moes ontruim.

Karins het verduidelik die storm kan na verwagting “ʼn yslike orkaan” wees van Florida tot Noord-Carolina, maar hy verwag dat die impak kan wissel. “Modelle toon ongelukkig ʼn westelike neiging. Dit beteken die impak op die VSA neem toe.”

Rick Scott, goewerneur van Florida, het Maandag tydens ʼn perskonferensie gesê die voorspelling vir die orkaan is tans net langs die kus, maar dit kan binne oomblikke verander. “As dit gebeur, gaan ons nie baie tyd hê om gereed te wees nie.”

Dis moontlik dat verpligte ontruimings in die suide van Florida aan die ooskus kan plaasvind, het Karins bygevoeg. Hy het voorspel Matthew sal ʼn kategorie 3- of 4-orkaan bly teen die tyd wat dit Florida na verwagting Donderdag tref, en kategorie 2- of 3-orkaan wanneer dit Vrydag Georgia en Noord-Carolina tref.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Werwelwind ·

Voorsorg teen die orkaan se skade lyk min of meer soos volg: Glasvensters word met plate toegemaak. Advertensieborde groter as ‘n sekere grootte word verwyder. Bote word uit die gebied verwyder of met water gevul. Straatname word op straathoeke op die pad aangebring met glimverf. Siekes en oumense word uit die gebied verwyder. Nooddienste staan gereed op die grens van die pad van die orkaan. Niemand mag gedurende die storm hul huise verlaat. Selfs die paaie na die gebied word nou gebruik vir verkeer uit die gevaargebied. Daar is natuurlik ook skuilings wat altyd duidelik gemerk is om maklik gesien te kan word en om te bereik.

Tebra du Plessis ·

Dankie vir inligting oor orkaan Mathew. My skoolmaat van gr1 tot gr12 en gesin bly in Florida. As natuurverwoesting “nader aan jou hart” beweeg is dit ‘n ander oog wat daaroor lees en ‘n ander verwysingsveld wanneer mens daaroor praat. Sulette ons bid vir julle veiligheid.

ANDRE ·

Dit is darem maar erg , een kand van die aarde spoel weg en die anderkand verdroog.

Blondie ·

My kinders wat in Boston bly vlieg Donderdag Florida toe.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.