Orkaan Nate: Dodetal styg

‘n Verlate boot in Mississippi te midde orkaan Nate. Foto: Justin Vicory/The Clarion-Ledger via AP.

Orkaan Nate het Saterdagaand as ʼn kategorie 1-storm naby die mond van die Mississippi-rivier aanland gekom, met winde van sowat 90 myl per uur. Nate is die vierde reusestorm waaronder Amerika gebuk gaan in minder as twee maande, waarvan die vorige drie Harvey, Irma en Maria was.

Sowat 30 mense is al in sentraal-Amerika dood voor Nate die warm waters van die Golf van Mexiko binnegegaan het.

Die Amerikaanse nasionale orkaansentrum (NHC) het intussen hul waarskuwing vir New Orleans na ʼn tropiese storm afgegradeer.

Daar word verwag dat Nate se episentrum van laat Saterdag na Sondagaand oor dele van Mississippi, Alabama en Tennessee sal beweeg en dan sal verswak tot ʼn tropiese depressie.

Noodtoestande is vroeër Saterdag in Louisiana, Mississippi en Alabama verklaar.

Sowat 5 000 mense in Alabama is tans sonder elektrisiteit as gevolg van dié orkaan wat gekenmerk word deur swaar reën en vloede.

Sentraal-Amerika het teen Donderdag baie swaar reën ervaar en 16 mense is in Nicaragua dood, tien in Costa Rica, twee in Honduras en twee in El Salvador.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.