Orkaan saai verwoesting in Sentraal-Amerika

Skade in Honduras aangerig. (Foto: Twitter)

Minstens drie mense is dood en talle vissers nog in gevaar nadat ’n orkaan Dinsdag die kuslyn van Nicaragua en die naburige Honduras getref het.

Orkaan Eta word bestempel as een van die kragtigste storms om Sentraal-Amerika in jare te tref.

Dié orkaan het Nicaragua vroeër vandag as kategorie 4-orkaan getref waar ’n modderstorting tot die dood van twee myners gely het voordat dit die lewe van ’n 13-jarige meisie in Honduras geëis het.

Dié tiener is in ’n modderstorting in haar ouerhuis dood.

Duisende mense is intussen in Nicaragua en Honduras na veiligheid gebring terwyl bome ontwortel, paaie beskadig en huise in die slag gebly het.

Sowat 60 vissers is tans in die oostelike Mosquitia-streek in Honduras vasgekeer. Luidens inligting is dit in dié stadium nog te gevaarlik om hulle te hulp te snel.

Die Amerikaanse nasionale orkaansentrum (NHC) sê daar is aanvanklik van Eta se stormsterkwinde verwag om “katastrofiese” skade suid van die hawe van Puerto Cabezas in Nicaragua te berokken.

Eta het die kus toe wel met winde van 225 km per uur getref, hoewel dit vinnig verswak het namate dit die binneland inbeweeg het.

Eta sal na verwagting vanmiddag nog in die noorde van Nicaragua woed voordat dit Donderdag na Sentraal-Honduras sal beweeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Nico

Dit word in die Bybelboek Matteus voorspel.