Osaka in trane by Indian Wells-toernooi

‘n Tranerige Naomi Osaka by die Indian Wells-toernooi in die VSA. (Foto: Clive Brunskill/Getty Images/AFP)

Die viermalige Grand Slam-wenner Naomi Osaka het in trane uitgebars nadat sy die naweek by die Indian Wells-toernooi deur ʼn toeskouer gekoggel is.

“Naomi, you suck,” het ʼn toeskouer uitgeroep in Osaka se wedstryd teen die Rus Veronica Kudermetova. Osaka kon egter nie die skeidsregter oortuig om stappe te doen teen die koggelaar nie en haar emosies het die oorhand gekry.

Osaka het haarself reggeruk en verder gespeel, maar sy het eindelik geen antwoord gehad vir Kudermetova se spel nie.

Sy het later in die wedstryd weer ʼn gesprek met die skeidsregter gehad en dié het haar verseker indien die toeskouer haar weer koggel, sou die persoon geïdentifiseer en uitgeskop word. Osaka het gevra of sy die skeidsregter se mikrofoon kan gebruik om die skare toe te spreek, maar skeidsregter Paula Vieira Souza het die versoek van die hand gewys.

ʼn Toesighouer is na die baan geroep en het die saak met Osaka bespreek, maar sy kon daarna net nie weer haar ritme vind nie.

Osaka het ná die wedstryd gesê dit was nie die opmerking wat haar so ontstel het nie, maar omdat dit haar herinner het aan Venus en Serena Williams wat in 2001 ook by die toernooi uitgejou is.

“Ek het ʼn video gekyk van Venus en Serena wat hier gekoggel word. As jy nog nooit daarna gekyk het nie, moet jy dit doen,” het sy gesê voor die trane weer begin loop het. Osaka het Kudermetova met haar oorwinning gelukgewens en toe van die baan af gestap.

Kudermetova het uitgesien na haar eerste kragmeting met Osaka. Sy het gesê sy weet nie wat die toeskouer gesê het nie, maar net dat haar teenstander ontsteld was.

“Ek het nie gehoor wat die vrou gesê het nie omdat ek op my wedstryd, my dien, gekonsentreer het. Ek het nie verstaan wat sy sê nie.

“Ná daardie oomblik het ek gesien Naomi begin huil. Ek kon nie verstaan wat aangaan nie.”

Osaka het die geestesgesondheid van atlete in die soeklig laat beland nadat sy verlede jaar depressie ondervind en ʼn moeilike jaar agter die rug gehad het.

Osaka, vantevore die wêreld se voorste vrouespeler, is nou 78ste op die wêreldranglys. Sy het die afgelope ruk ongereeld gespeel en het die afgelope paar maande selfs nie eens die finaal van ʼn toernooi gehaal nie.

Saterdag se nederlaag was vir haar opnuut ʼn groot terugslag en net nog ʼn kwesbare oomblik reg in die openbare oog.

Kudermetova het vroeër gesê sy wil teen Osaka – teen wie sy nog glad nie te staan gekom het nie – speel, aangesien sy wil sien waar sy haar spel kan verbeter. Die wedstryd het uiteindelik egter meer van Osaka se kwesbaarhede as Kudermetova se sterk punte blootgelê.

Osaka het verlede jaar drie maande lank opgehou tennis speel nadat sy teen Leylah Fernandez by die Amerikaanse Ope verloor het en het destyds gesê sy vind nie meer vreugde in die mededinging nie.

Sy was in Januarie by die Australiese Ope te sien, waar sy in die derde ronde verslaan is.

Bronne: AFP, The New York Times

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Sobymykoolkop ·

Staan op een knie, gaan verkla die toeskouer by BLM, hulle sal sorg vir die res.

Alta Alleman ·

Jy weet waarvoor jy jouself inlaat die oomblik wanneer jy beroepstennis speel.

Cola ·

Nee geen persoon verdien dit nie swak toeskouer en hy kom weg hiermee

Dup ·

Osaka klink vir my na ñ tjankbalie.Sy sanik en kla oor alles.As jy ñ beroeps tennisspeler is moet jy alles wat om jou gebeur kan absorbeer en verwerk. Maar nouja,sy wil seker spesiale aandag hê…..

Kobus ·

Waarom gaan kyk jy sport net om jouself soos ‘n buffel te gedra? Heel moontlik praat en behandel hy sy vrou en dogters ook so. Mense het nie meer respek vir ander nie. Sy het verloor, voel hy nou soos ‘n held? Pateties!

Hennie Biebouw ·

Ek stem met jou saam. Waarom jouself soos ‘n buffel gedra? Dit het egter vir my na ‘n vrou se stem geklink.

Amelia ·

Dink ‘n bietjie daaroor. As dit so maklik is om Osaka van stryk af te bring is dit mos ‘n wapen wat oor en oor teen haar gebruik kan word deur ondersteuners van haar opponente. Sy maak dit te maklik vir hulle. As jy ‘n eend is wat water net van jou rug laat afrol, gaan almal baie gou ophou om jou te koggel. Ek ondersteun nie boeliery nie maar as jy ‘n professionele atleet wil wees moet jy jou vrou kan staan.

Hennie Biebouw ·

Ek het nie veel ooghare vir die drama queen nie, maar die toeskouer se gedrag is laakbaar. Hul moes haar verwyder het uit die skare.

Vonkprop ·

Ek hou glad nie van hierdie BLM ding en hoe dit misbruik word deur sportmense nie, maar ek moet eerlik wees dat dit wat hierdie vrou geskree het was nou regtig simpel en onnodig. Spreek boekdele van hulle eie “mental health”.

Johann ·

Shame…kan duidelik nie die druk hanteer nie. Dis nou as sy nie besig is met.politiek nie?

Snuffelgids ·

If it’s too hot in the kitchen, get out. Hulle wil al die perks hê van rich and famous, maar in trane uitbars sodra een mens skree “you suck”. Nee wat, sy was geklop deur n beter speler op die dag

Amelia ·

Die beste atlete sal sulke kommentare juis gebruik om hulle sterk te maak. Hoe meer jy my uitjou, hoe lekkerder gaan dit vir my wees om aan jou te bewys dat jou koggelry my nie traak nie. Ek dink Naomi het ‘n self-help guru nodig om haar te help om meer selfversekerd en dapper te wees. Dit is waaroor dit gaan om ‘n top atleet te wees. If you can’t stand the heat, get out of the kitchen.

Cathaldus ·

Dink nounet as sy ‘n beroeps bokser was en die skare understeun haar oponent. Gaan sy in die kryt begin huil voor die verrigtinge begin?

Niklaas ·

Bal die vuisie en land op daai knie. Als sal dan beter raak

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.