Oscar bekroonde akteur sê jammer na aantyging

Kevin Spacey. Foto: Evan Agostini/Invision/AP, File

Die akteur Kevin Spacey het sy verskoning aangebied nadat ʼn veel jonger akteur hom daarvan beskuldig het dat Spacey seksuele toenadering by hom gesoek het toe hy net 14 jaar oud was.

Die akteur Anthony Rapp het in ʼn onderhoud met BuzzFeed gesê hy het in 1986 ʼn partytjie bygewoon wat deur Spacey (58) gereël is. Volgens Rapp het Spacey bo-op hom gelê op ʼn bed nadat die ander gaste reeds weg was. Rapp het gesê hy het Spacey weggestoot en toe die huis verlaat.

Spacey het in reaksie hierop gesê hy kan nie die voorval onthou nie. Hy het egter onvoorwaardelik verskoning aangebied en gesê hy was seker onder die invloed van alkohol. Spacey, wat reeds twee Oscar-toekennings gewen het, het ook intussen erken hy is gay.

“Ek het my lewe lank al romantiese verhoudings met mans gehad en ek kies om my lewe nou as ʼn gay man te lei. Ek wil dit openlik en eerlik hanteer en derhalwe begin dit by my wat my eie gedrag ondersoek.”

Volgens Rapp het hy besluit om sy storie te vertel in die lig van talle akteurs en aktrises wat die afgelope tyd die stilte verbreek het oor voorvalle van seksuele aanrandings en misbruik.

Talle bekendes het hul stemme by die internasionale #MeToo-veldtog gevoeg nadat die Amerikaanse aktrise Alyssa Milano dié veldtog begin het. Milano se inskrywing was in reaksie op die bewerings dat die bekroonde rolprentvervaardiger en medestigter van The Weinstein Company, Harvey Weinstein (65), minstens drie vroue verkrag en tien ander seksueel geteister het.

Hy is ook daarvan beskuldig dat hy meer as agt vroue, onder wie Rose McGowan, Asia Argento en Lucia Evans (née Stoller), betaal het om nié oor die seksuele teistering en aanranding te praat nie. Talle vroue, onder wie bekendes soos Cara Delevingne, Angelina Jolie en Gwyneth Paltrow, het ná die bewerings ook hul stemme by die klagte gevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

TESS ·

rerig? dit gebeur oral so al verskil is net die mense is bekend

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.