Oscar Pistorius-kostuum van rakke verwyder

Die “Blade Gunner”-kostuum wat op Amazon tekoop was (Foto: Amazon)

Die aanlyn handelaar Amazon het verkope van ʼn Halloween-uitrusting wat Oscar Pistorius uitbeeld, onttrek.

Dié uitrusting bestaan uit groen-en-geel atletiekdrag wat baie na die Suid-Afrikaanse atletiekspan se klere lyk met die woorde “Blade Gunner” en die nommer “2012” daarop. Dan is daar steweloortreksels wat dit laat lyk of jy lemnaelers aanhet. Die advertensie vir die Halloween-kostuum sluit ook ʼn speelgoedgeweer in. Amazon het dié kostuum vir £26,10 (R467) verkoop.

Voordat die “Blade Gunner”-kostuum van Amazon se webwerf verwyder is, het die beskrywing van die kostuum gelees: “Dié kostuum van ʼn Paralimpiese atleet sal beslis omstredenheid by jou volgende geleentheid veroorsaak.”

Die uitrusting het baie negatiewe aandag ontlok, en is daarna vinnig verwyder. Amazon het in ʼn verklaring gesê al hul verkopers moet sekere riglyne volg en dat dié wat dit nie gehoorsaam nie “onderwerp word aan verdere stappe, waaronder die sluit van hul rekeninge”.

“Dié produk is nie meer beskikbaar nie,” het Amazon laat hoor. Dit is nie die eerste keer dat Amazon kostuums moet verwyder nie. Hulle moes voorheen kostuums van Anne Frank en ʼn Israeli-soldaat verwyder.

Pistorius is vir die moord op sy vriendin Reeva Steenkamp aangekla en het tydens die hofverrigtinge wat wêreldwyd uitgesaai is, aangevoer hy het Steenkamp deur die badkamerdeur geskiet omdat hy haar vir ʼn inbreker aangesien het. Pistorius is aanvanklik aan strafbare manslag skuldig bevind, maar sy skuldigbevinding is later na moord verander en hy is ʼn vonnis van ses jaar tronkstraf opgelê. Die staat se appèl teen Pistorius se vonnis sal op 3 November aangehoor word.

Maroela Media het vroeër berig Pistorius se familie oorweeg dit om regstappe te doen oor ʼn rolprent getiteld Oscar Pistorius: Blade Runner Killer wat volgende maand vrygestel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Eish ·

Moet n mens lag of huil?
Genadiglik is die viering van Halloween nie n gebruik hier nie. Swak smaak.

Adri ·

Lyk meer na ‘n speelgoedpistool as ‘n speelgoedgeweer. ‘n Geweer is baie langer as die pistooltjie in sy hand.

Sies ·

Sjoe, dis baie onsensitief. Watter tipe mens dink so iets uit? Ek hoop die familie(s) dagvaar hulle.
As hulle so iets wil doen, maak te minste die voetgegedeelte reg: as jy in Oscar se skoene wil loop moet jy die gerief van voete verbeur en met “lemme” loop.

Lola ·

Waarvoor wil jy he hulle moet gedagvaar word? Stem saam, dit is onsensitief.

Jack Russl ·

Enige een wat R467 vir dit betaal moet sy kop laat lees

Denise ·

Hoe siek moet jy wees om geld uit n ander een se pyn te wil maak ek is geskok!!!!!!!

Theresa ·

Amazon: SWAK smaak. Hoop jul verloor baie ondersteuning oor hierdie uiters onsensitiewe optrede. Jul moes dit gekeer het, voordat dit die media gehaal het.
Sies!!

Beth ·

Daar is baie besighede wat hul produkte deur Amazon verkoop so dis nie Amazon self nie. Hulle verskaf net die platform. Wees eerder kwaad vir die besigheid wat dit adverteer het op Amazon

Amazon is uit ·

Amazon is uit vir ondersteuning, dit is uiters siek en onaanvaarbaar, walglik.

Ou tannies ·

Come on…. Dis n costume en hy is skuldig van moord. Julle sou seker nie n probleem gehad het as iemand aantrek soos bonnie and clyde of die mafia (al capone) nie ?

MeisieMens ·

Ek stem saam Leeu… Het nou lekker gegiggel… Iemand het ‘n gaping gesien, en dit gevat! Oscar dien sy vonnis uit, so gaan aan. Daar is genoeg tannies met nat broeke daar buite. Lighten up a bit!

Boet Fasie ·

Amazon uiters swak en ongevoelig, julle verdien geen ordentlik mens se besigheid nie , maak nie saak of Oscar skuldig was of nie. Julle verkoop julle siele vir geld !!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.