Die Britse reklamestandaardeagentskap het gesê hy het meer as 5 200 klagtes oor die advertensie ontvang. Dit word as ʼn “ongekende aantal klagtes” beskryf. Die advertensie het in die Britse en Ierse media verskyn.
Meer as 100 000 mense het ook ʼn petisie onderteken waarin geëis word dat Paddy Power die advertensie moet herroep en die weddenskappe oor Pistorius se moordverhoor moet staak.
Pistorius word daarvan beskuldig dat hy Reeva Steenkamp op 14 Februarie 2013 doodgeskiet het.
Die advertensie het ʼn Oscar (Academy Awards)-toekenning met Pistorius se gesig en die woorde: “Dis Oscar-tyd. Geld terug as hy vrygespreek word.” Paddy Power het gesinspeel op die Oscar-toekennings wat Sondagaand in Amerika uitgeloof is. Pistorius se verhoor het Maandag in Pretoria begin.
Paddy Power was nie dadelik beskikbaar vir kommentaar nie, maar die reklamestandaardeagentskap het gesê die beroepswedder het aangedui hy is “bereid om sy samewerking te gee”. -SAPA
Lees ook:
Petisie oor Oscar-weddenskappe
Weddenskappe oor of Oscar skuldig is of nie