Oscars: Die klap wat die wêreld aan die gons het

Will Smith klap die komediant Chris Rock op die verhoog tydens die Oscars-geleentheid. (Foto: Robyn Beck/AFP)

Hoewel Will Smith Sondagaand met sy heel eerste Oscar-toekenning as beste akteur vereer is, is dit nie waarom sy naam nou op die ganse wêreld se lippe is nie.

Smith (53), wat die gesogte goue beeldjie vir sy rol in die fliek King Richard huis toe geneem het, het opslae gemaak toe hy die komediant en akteur Chris Rock ʼn klap gegee het op die verhoog omdat dié ʼn grap oor sy vrou, Jada Pinkett Smith, gemaak het.

Rock was op die verhoog om die beeldjie vir beste dokumentêr uit te deel. Hy het na Pinkett Smith, wat ʼn kaalkop het weens haar stryd met alopesie (ʼn immuunsiekte wat haarverlies tot gevolg het), gewys en ʼn grap gemaak oor die fliek G.I. Jane.

Hoewel Smith eers gelag het, het Pinkett Smith se gesig boekdele gespreek en Smith het die verhoog betree om vir Rock aan te vat.

Smith het vir Rock ʼn harde klap deur die gesig gegee en weggestap, waarna hy weer vanuit sy sitplek uit die gehoor vir Rock geskree het: “Hou my vrou se naam uit jou f****n mond!”

Dit het aanvanklik eers gelyk of dié twee akteurs ʼn grap maak, maar kykers en die gehoor het gou besef dit is nie die geval nie toe Smith uit sy sitplek opstaan om vir Rock op die verhoog te moker.

Kykers by die huis het egter nie gehoor hoe Smith vir Rock skel nie, aangesien ABC, die netwerk wat die Oscars-geleentheid uitgesaai het, die regstreekse uitsending gesny het nadat Smith vir Rock geslaan het.

Will Smith het die Oscar vir beste akteur gewen. Hy het tranerig om verskoning gevra nadat hy die komediant Chris Rock op die verhoog geklap het oor ‘n grap wat hy gemaak het oor Smith se vrou, Jada Pinkett Smith. (Foto: Robyn Beck/AFP)

Tydens ʼn advertensiebreuk het die akteur Denzel Washington met Smith gepraat. Smith het in sy bedankingstoespraak, nadat hy die beeldjie vir beste akteur gewen het, gesê Washington het aan hom gesê: “Wees versigtig op jou grootste oomblik, want dit is wanneer die duiwel vir jou kom”.

“Ek wil om verskoning vra aan die Akademie [wat die Oscars-geleentheid aanbied] en my mede-benoemdes,” het ʼn tranerige Smith gesê toe hy die toekenning ontvang het vir sy vertolking van die rol van Richard Williams, pa van die tennissterre Venus en Serena.

“Kuns boots die lewe na. Ek lyk nou soos die gekke pa, net soos wat hulle gesê het oor Richard Williams. Maar die liefde laat jou vreemde dinge doen,” het hy gesê.

“Richard Williams was ʼn heftige verdediger van sy familie. Ek hoop die Akademie nooi my weer terug.”

Rock se grappie het verwys na die fliek 1997-fliek G.I. Jane. Demi Moore het destyds opslae gemaak toe sy haar lang, donker lokke afgeskeer het vir die hoofrol in dié fliek.

Rock het oorbluf gelyk na afloop van die insident en aan die gehoor gesê: “Dit was die grootste aand in die geskiedenis van televisie”.

Die 94ste Oscar-toekennings is Sondagaand in die Dolby-teater in Los Angeles in die VSA uitgedeel.

Bykomende bronne: Variety, BBC

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

Cobus ·

Moet seker maar probeer om die dooie perd aan die gang en relatief te hou, so bietjie UFC propaganda voor die geveg gaan nie vir Hollywood/Oscars red nie. Good riddance, kan nie te vinnig gebeur nie.

RS ·

Hierdie lyk meer soos n persoonlike vendetta wat uit gekom het in hierdie situasie. Die opmerking was dalk die laaste strooi in die vendetta. Hou haar gesig dop. As dit n onskuldige grappie was sou sy dit lighartig af gelag het. Duidelik was haar houding reeds negatief toe Rock op die verhoog staan. Ek is oortuig daarvan dat hierdie die rokie is van n vuurtjie wat erens brand….meer aan die hele storie. Ons kyk maar uitkom in die volgende paar dae.

Janice ·

Dit was beslis nie ‘n snaakse grappie nie. Hy het in baie swak smaak ‘n grap van Jada Pinkett Smith se haarverlies agv haar gesondheid gemaak. Ek dink ek sou hom ook geklap het.

Josua ·

Stage performance, as Will hom werklik geklap het sou hy balans verloor het, die ouens is uitstekend geleer hoe om n stage performance te lewer alles vooruit beplan.

Tiptol ·

Om ‘n grappie van iemand se siekte te maak is baie swak styl.

Leana ·

Vir my te wonderlik hoe hy saam sit en lag oor die grap, die volgende oomblik opstaan vir Chris kamtig klap en met ‘n glimlag van die verhoog afloop net om later te gaan staan en sanik oor hulle arme mense wat so geboelie word. Enige iets vir aandag.

piet ·

Hy’t gesien dit ontstel sy vrou dis hoekom hy hom geklap het.

Hennie Biebouw ·

Aaa ja, die Oscars. Die jaarlikse prul waartydens die Hollywood elite eksklusief in swier en oorvloed vergader en mekaarr met goue beeldjies vereer , terwyl aan die gepeupel voorgesê word hoe hul hul lewens moet lei……

Hennie Biebouw ·

Ja, en ook by Davos, maar dié betrokke artikel handel oor die Oscars.

BARNEY ·

Dit was in baie swak smaak, om op die verhoog met iemand se siekte te spot. Hulle is lief om onnodige kommentaar te lewer oor die akteurs en hulle gades. Die akademie het neer volwasse en kreatiewe aanbieders nodig.

Louise ·

Dit is wat die liefde doen jy staan op vir jou vrou al is dit voor ‘n gehoor. Dit wil gedoen wees. Gee hom sommer nog ‘n ekstra oscar vir dit.

Patch ·

Ek stem 100% saam. Jy kan op haar gesig sien hoe beledig sy gevoel het oor die aanmerking. Die aanbieders se sê-goed is soms regtig onnodig en glad nie snaaks nie. Geen respek nie.

Agie@toeka ·

Ja! Dis wat gebeur as die tong vinniger as die brein is! LOL.

MakersMark ·

Dis net toneelspeel. As dit ‘n regte properse klap was het cr op sy agterstewe gesit en ten minste sy neus gebloei.

Johanna ·

Niks so goed soos n harde klap vir iemand wat nie sensitief is vir n ander se seer nie. BOELIE, dit maak jou nie FUNNY nue, dit maak jou walglik en n BOELIE. Een klap wat jy.nooit sal vergeet nie..jh verdien.dit.

Klaar me Maroela ·

As Jada Pinkett Smith my ma of suster was, het CR nie net ‘n klap gekry nie. Sy “grappie” is UITERS swak smaak, platvloers en banaal! Sou hy dieselfde opmerkings maak teenoor ‘n oorlogs vetereraan wat sonder ‘n ledemaat teruggekeer het huis-toe? Komediante soos hy moet leer waar eindig oordentlikheid se grense. 100% vir Will Smith, ek het haar gesig gesien en dit spreek boekdele. Sy het dit nie as grap ervaar nie. Sy sukkel self nog on vrede te maak met haar toestand en weer die wêreld in die oë te kyk, dat sy daar opgedaag het sonder ‘n pruik of ‘n serp om haar kop gedraai, was baie dapper en CR het daarop gespoeg!

Cecilia ·

Will Smith. Jy is jou vrou se hero! En myne!

Rock jy het gekey waarvoor jy gevrae het.

Ek sit in d selfde situasie. Agv n spiersiekte wat my gesig en tong aantas. Klink ek soos n dronkie as ek praat. Dit maak seer as oningeligte mense onsmaaklike aanmerkings daaroor maak. Eers as my familie verduidelik dan kan jy sien hoe skaam hul kry.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.