Oscars snoep met Gaga-fliek; western-rolprent ontvang meeste benoemings

Jane Campion, regisseur van ‘The Power of the Dog’ in Desember verlede jaar in San Francisco, Kalifornië. (Foto: Steve Jennings/Getty Images North America/AFP)

Jane Campion het Dinsdag Oscars-geskiedenis gemaak deur die eerste vroueregisseuse te word wat vir ʼn tweede keer in die kategorie vir beste regisseur vir dié gesogte goue beeldjie benoem is.

Campion se fliek, The Power of the Dog, wat op Netflix uitgereik is, is die voorloper vir vanjaar se Oscars-toekennings, met 12 benoemings. Kort op dié western-fliek se hakke is Dune, ʼn wetenskapsfiksierolprent met onder andere Zendaya, Timothée Chalamet, Jason Momoa, Javier Bardem en Josh Brolin in die hoofrolle.

The Power of the Dog is ook benoem in die kategorieë vir beste rolprent, beste aangepaste draaiboek, beste redigering en beste kinematografie. Benedict Cumberbatch is ook as beste akteur benoem en Kirsten Dunst vir beste aktrise in ʼn ondersteunende rol vir dié rolprent.

Ander rolprentmakers wat benoem is in die kategorie vir beste regisseur is Steven Spielberg vir West Side Story, Kenneth Branagh vir Belfast, Paul Thomas Anderson vir Licorice Pizza en Ryusuke Hamaguchi vir Drive My Car.

Benedict Cumberbatch is as beste akteur benoem vir sy rol in The Power of the Dog

West Side Story, Belfast, CODA, Don’t Look Up, Drive My Car, King Richard, Licorice Pizza en Nightmare Alley is benoem in die kategorie vir beste rolprent.

Andrew Garfield (Tick Tick Boom), Javier Bardem (Being the Ricardos), Will Smith (King Richard), Benedict Cumberbatch (The Power of the Dog) en Denzel Washington (The Tragedy of MacBeth) is in die kategorie vir beste akteur benoem.

Ciaran Hinds (Belfast), Troy Kotsur (CODA), Jesse Plemons (The Power of the Dog), JK Simmons (Being the Ricardos) en Kodi Smit-McPhee (The Power of the Dog) is in die kategorie vir beste akteur in ʼn ondersteunende rol benoem.

Jessie Buckley (The Lost Daughter), Ariana DeBose (West Side Story), Judi Dench (Belfast), Kirsten Dunst (The Power of the Dog) en Aunjanue Ellis (King Richard) is in die kategorie vir beste aktrise in ʼn ondersteunende rol benoem.

Geskiedkundige benoemings

‘Belfast’-regisseur Kenneth Branagh by die DGA-teaterkompleks in November 2021 in Los Angeles, Kalifornië. (Foto: Amy Sussman/Getty Images North America/AFP)

Die Nieu-Seelandse regisseuse Campion is in 1994 benoem vir beste regisseuse vir die rolprent The Piano. Sy het daardie jaar met die toekenning vir beste draaiboek huis toe gegaan.

Sy is ook in die kategorie vir beste aangepaste draaiboek vir The Power of the Dog benoem.

Kenneth Branagh, die Ierse akteur en regisseur, het die eerste persoon geword wat sewe Oscar-benoemings in sewe verskillende kategorieë ontvang het. Hy is benoem vir die regie, vervaardiging en oorspronklike draaiboek van Belfast.

Branagh het voorheen benoemings ontvang vir beste regisseur en akteur vir die fliek Henry V, vir beste lewende-aksie-kortfliek vir Swan Song, beste akteur in ʼn ondersteunende rol vir My week with Marilyn en beste aangepaste draaiboek vir Hamlet.

Kristen Stewart vertolk die rol van prinses Diana in ‘Spencer’. (Foto: Amy Sussman/Getty Images/AFP)

Die 53-jarige Amerikaanse akteur Troy Kotsur van CODA het die tweede dowe akteur geword wat benoem is vir die vertolking van ʼn dowe karakter. Sy medester, Marlee Matlin, het voorheen ʼn Oscar-beeldjie vir haar rol in Children of a Lesser God huis toe gevat.

Being the Ricardos se Javier Bardem en Parallel Mothers se Penélope Cruz het die sesde getroude paartjie geword wat in dieselfde jaar benoem word vir hulle toneelspel.

Kirsten Dunst en Jesse Plemons, wat sedert 2017 verloof is en twee seuns saam het, is albei onderskeidelik in die kategorieë vir beste ondersteunende akteur en aktrise benoem vir The Power of the Dog.

Verrassings

Adam Driver en Lady Gaga op die stel van die nuwe rolprent ‘House of Gucci’. (Foto: Instagram/Lady Gaga)

Lady Gaga, wat na verwagting ʼn voorloper was om in die kategorie vir beste aktrise benoem te word vir haar hoofrol in House of Gucci, is nie benoem nie. Dit is ʼn verrassende wending in vanjaar se Oscars-benoemings aangesien Gaga in dié kategorie benoem is vir vanjaar se Critics Choice-, Golden Globes-, Screen Actors Guild- en Bafta-toekennings. Gaga is ook as beste aktrise aangewys deur die New York Film Critics Circle.

Vanjaar se mededingers vir die goue beeldjie in die kategorie vir beste aktrise is Jessica Chastain vir The Eyes of Tammy Faye, Olivia Colman vir The Lost Daughter, Penélope Cruz vir Parallel Mothers, Nicole Kidman vir Being the Ricardos and Kristen Stewart vir Spencer.

Daar is aanvanklik bespiegel dat Stewart die een sou wees wat nie ʼn Oscar-benoeming vir haar vertolking van prinses Diana sou ontvang nie nadat sy vir onder meer die Screen Actors Guild- en Bafta-toekennings oorgeslaan is.

House of Gucci het ook nie die paal gehaal vir benoemings in die kategorieë vir beste rolprent of beste regisseur nie.

Jared Leto, wat ook benoem is vir onder meer ʼn Critics Choice- en Screen Actors Guild-toekenning vir sy ondersteunende rol in die fliek, is ook nie vir ʼn Oscar benoem nie. Die fliek het darem een benoeming in die sak, met Frederic Aspiras, wat benoem is in die kategorie vir beste haarversorging en grimering.

Die opspraakwekkende James Bond-fliek, No Time To Die, het ook ʼn paar benoemings ontvang. Die fliek is benoem vir beste visuele effekte, beste klank en beste oorspronklike temalied vir “No Time to Die” deur Billie Eilish. Spider-Man: No Way Home is ook benoem vir beste visuele effekte.

Die weglating van Denis Villeneuve in die kategorie vir beste regisseur is ook ʼn verrassing, aangesien Dune op vorige toekenningseremonies skoonskip gemaak het met benoemings. Die fliek is onder meer vir 11 Baftas benoem.

Vroue in Oscars-geskiedenis

Frances McDormand en Chloe Zhao. (Foto: POOL/GETTY IMAGES NORTH AMERICA/Getty Images via AFP)

Slegs sewe vroue is voorheen vir ʼn Oscar vir beste regisseur benoem: Lina Wertmüller, die Italiaanse regisseuse wat in Desember verlede jaar in die ouderdom van 93 gesterf het, vir Seven Beauties, Campion vir The Piano en The Power of the Dog, Sofia Coppola vir Lost in Translation, Kathryn Bigalow vir The Hurt Locker, Greta Gerwig vir Lady Bird, Chloé Zhao vir Nomadland en Emerald Fennell vir Promising Young Woman.

Bigalow en Zhao is die enigste twee wenners. Zhao en Fennell is albei verlede jaar benoem – die eerste jaar waarin twee vrouregisseuses om die beeldjie vir beste regisseur meegeding het.

Die wenners van die 94ste jaarlikse Oscar-toekennings sal op Sondag 27 Maart by die Dolby-teater in Los Angeles aangewys word.

Hier is ʼn volledige lys van benoemings.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jean ·

Kristen Steward is seker een van die swakste aktrises in die wêreld wat in Holywood bekend is.

SlinkseKoljander ·

Will Smith sal seker weer wen vir daai gemors fliek King Richard, dit gaan moes oor ras en politiek nie oor talent nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.