Ou PlayStation toe nie ʼn bom

Foto ter illustrasie. (Foto: Joe Raedle/AFP)

ʼn Verouderde weergawe van PlayStation het die afgelope naweek beamptes by ʼn lughawe in Boston, VSA, op hol gehad toe dit vir ʼn bom aangesien is.

Volgens die Amerikaanse nuuskanaal CBS was veiligheidsbeamptes by die Logan- internasionale lughawe Sondagmiddag laat besig om bagasie vir ʼn vlug van die Delta-lugredery na te gaan, toe ʼn verdagte pakkie in een van die reistasse ontdek is. Die Massachusetts-polisie se bomspan is ontbied en alle passasiers moes terminaal A onmiddellik ontruim.

Die polisie kon eindelik vasstel dat die verdagte item bloot ʼn verouderde weergawe van PlayStation is wat só beskadig was dat dit ʼn verwronge beeld vertoon het toe X-strale van die reistas geneem is. “Die gebied is veilig verklaar en reisigers is kort daarna weer in die terminaal toegelaat,” het die polisie gesê.

Die mes wat in ‘n kierie op die lughawe in Boston gevind is. (Foto: Twitter / TSA)

Dieselfde lughawe het ʼn week gelede die nuus gehaal toe ʼn vlymskerp mes in ʼn passasier se kierie gevind is. Die passasier is voorgekeer by ʼn kontrolepunt in die lughawegebou. Veiligheidswagte het die handvatsel van die kierie afgeskroef en ʼn lang lem, vas aan die handvatsel, uit die kierie getrek. Die passasier het skynbaar geen idee gehad die lem was in die kierie versteek nie en is op die vliegtuig toegelaat nadat hy die kierie oorhandig het.

Dieselfde dag is ʼn man met ʼn gelaaide vuurwapen deur veiligheidsbeamptes by die lughawe voorgekeer. Volgens ʼn verklaring deur Transportation Security Administration (TSA) is die wapen en twee magasyne in die man se handbagasie gevind. Ná ʼn ondersoek het dit geblyk dat die passasier, wat van New Hampshire kom, nie ʼn permit vir die wapen gehad het nie. “Die Massachusetts-polisie het die vuurwapen gekonfiskeer en die passasier is toegelaat om sy vlug na Tampa in Florida te haal.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

ES ·

Amerika se vuurwapenwette is heeltemal te laks. Hy het ‘n ongelisensieerde vuurwapen op die lughawe met twee magasyne maar hy word toegelaat om verder te vlieg? Dit moet ‘n kriminele oortreding wees, net soos hier by ons.

VaalDonkie ·

Jy moet verstaan dat die VSA baie soos die EU werk waar elke deelstaat sy eie wette en regulasies het ten opsigte van vuurwapens. En New Hampshire en Massachusetts is teenpole in terme van hoe streng hul wette en regulasies is. Dis bykans onmoontlik om kop te hou met wat in elke deelstaat se reels geskrywe staan. Ek weet toevallig New Hampshire is een van die “vryste” state terwyl Massachussetts erg streng is.

VaalDonkie ·

Ek het in 1996 Engeland toe gereis en daar vir my ‘n Sega Megadrive 2 gekoop en in my tas gepak. Gelukkig sonder enige probleme die ding deur die lughawens gekry sonder vrae of aksynsbelasting. Ek wonder wat sou vandag daarmee (en met my!) gebeur het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.