
Lamine Diack. (AP Photo/Thibault Camus, File).
Die 87-jarige Lamine Diack is gister in Parys skuldig bevind op aanklagte van korrupsie nadat hy gedurende sy dienstydperk as hoof van die IAAF (nou Wêreldatletiek) omkoopgeld van Russiese atlete aanvaar het.
Hy het twee jaar tronkstraf gekry, asook ’n boete van $594 000.
Diack, ’n Senegalese burger, was van 1999 tot 2015 een van die invloedrykste mense in die sportwêreld. Hy het egter gesorg dat die uitslae van toetse vir die gebruik van verbode middels deur Russiese atlete toegesmeer word sodat hulle selfs aan die 2012- Olimpiese Spele in Londen kon deelneem.
Hy het in die proses $3,74 miljoen omkoopgeld ontvang wat hy onder meer gebruik het om ander beamptes vir hul stilswye te vergoed. Volgens die hof het sy optrede die waardes van atletiek en die sport se stryd teen dwelmmisbruik ondermyn.
Rusland is in Desember 2019 vir vier jaar deur die Wêreldagentskap teen die gebruik van verbode middels (Wada) verbied om aan enige groot wêreldsportgebeurtenis deel te neem. Dit sluit die Olimpiese en Paralimpiese Spele in Tokio, asook die Wêreldbeker-sokkertoernooi in Katar in.
Dié besluit volg ná Russiese atlete gereeld in die spervuur is weens die staatsondersteunde gebruik van verbode middels. Dit beteken dat Rusland se volkslied en nasionale vlag by groot internasionale byeenkomste afwesig gaan wees.
Een van Diack se prokureurs, Simon Ndiaye, het die hof se beslissing as onregverdig en onmenslik bestempel en gesê hulle gaan teen die uitspraak appelleer.
Sy hoë ouderdom beteken volgens hulle dat hy tronkstraf kan vryspring. Volgens CNN is hy reeds sedert 2015 onder huisarres.
Die 87-jarige se seun, Papa Massata Diack, is tot vyf jaar tronkstraf gevonnis, terwyl hy met $1,2 miljoen beboet is. Hy was destyds die IAAF se bemarkingskonsultant en sy maatskappye het $15 miljoen ontvang terwyl sy pa in beheer van sake was.
Al twee mans moet ook $5,9 miljoen aan Wêreldatletiek vir skadevergoeding betaal.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
12 Kommentare
Liewe aarde!!!!
Aijaijai … do nie beperk tot net SA nie.
Wel hier by ons is ook so n oompi en sy gesins lede wat mildelik en wyd geskep het en waarskeinlik steeds skep…
Daar is net een manier om bo aan die leer te kom deur om hard te werk en eerlik te wees.
Nou as die ou kan tronk toe gaan op sy ouderdom, wat is verkeerd met Jacob Zuma? Ou Jacob is ‘n jong 78! As hy soe 8 jaar kry dan sal hy nog jonger as die ou wees as hy uit die tronk uitkom.