Oud-baasspeurder ontken dwelm-aanklagte

Geskorste Nigeriese adjunk-polisiekommissaris, Abba Kyari in die Federale Hooggeregshof in Nigerië (7 Maart 2022) (Foto: Kola Sulaimon/AFP)

ʼn Hoëprofiel polisiebevelvoerder van Nigerië, wat in ʼn stadium as die land se “baasspeurder” bekendgestaan het, het Maandag skuld ontken op aanklagte van dwelmhandel. Hy is ʼn maand gelede in hegtenis geneem en het in absolute ongenade geval.

Abba Kyari, adjunk- nasionale polisiekommissaris, was reeds geskors toe hy geïmpliseer is in die saak van die Nigeriese sosialemedia-beïnvloeder Ramon Abbas, bekend as Hushpuppi. Abbas het in die VSA skuld beken op aanklag van geldwassery en ander misdade.

Kyari het bekendheid verwerf toe hy ʼn rits hoëprofielmisdade in Nigerië ontbloot het en het in ʼn dokumentêre fliek ʼn teen-ontvoeringseenheid gelei.

Kyari en ses staan nou tereg op agt aanklagte, insluitend handel dryf met kokaïen. Ondersoekbeamptes sê hy is verfilm waar hy ʼn beampte probeer omkoop tydens ʼn onwettige dwelmtransaksie.

Die regter het die saak tot 14 Maart uitgestel om alle aansoeke om borgtog te oorweeg. Verrigtinge duur op 28 Maart voort om die saak te hersien. Kyari bly in aanhouding.

“My kliënt het nie skuld beken nie en daarom is dit nou vir my net belangrik om sy vryheid te verseker deur ʼn aansoek om borgtog,” het Mahmoud Magaji, sy prokureur, aan verslaggewers gesê. Twee van die beskuldigdes het skuld beken.

Die nasionale dwelmtoepassingsagentskap (NDLEA) sê Kyari word verdink in deelname aan ʼn kokaïen-transaksie van 25 kg. Sommige NDLEA-beamptes was glo op die “salarisrol” van die kartel vir wie Kyari na bewering gewerk het, aldus die polisie. Die agentskap sê Kyari wou ʼn NDLEA-beampte in Januarie omkoop en het hom gevra om ʼn deel van die kokaïne te versteek. Kyari is verfilm waar hy ongeveer R940 000 in kontant aan die beampte oorhandig.

Volgens die NDLEA is Kyari ʼn lid van die dwelm-kartel wat die onwettige dwelmpyplyn tussen Brasilië, Ethiopië en Nigerië bedryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Wondermaarnet ·

So trek hy toe die aandag af van sy eie misdade deur ‘n goeie speurder te wees, want dan weet hy niemand gaan hom verdink nie. Skelm bly maar skelm.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.