Oud-SA-kolonel doodstraf opgelê

William Endley. Foto: ANA

ʼn Voormalige Suid-Afrikaanse weermagkolonel gaan tereggestel word nadat hy skuldig bevind is aan sameswering en ʼn poging om die Suid-Soedannese regering omver te werp.

William Endley (55), ʼn afgetrede kolonel, het as veiligheidsraadgewer opgetree vir Riek Machar, die rebelleleier van die opposisie in Suid-Soedan, wie se magte sedert 2013 ʼn burgeroorlog in dié Afrika-land voer.

ʼn Getuie het aan Reuters bevestig dat ʼn hof in die Suid-Soedannese hoofstad, Juba, Vrydag beslis het dat Endley tereggestel moet word deur gehang te word.

Sana Endley, William se vrou, het Vrydag in trane uitgebars toe sy deur ʼn verslaggewer van African News Agency (ANA) geskakel is vir kommentaar. “Jy het geen idee waardeur ek gaan nie, het jy? Nee, jy het nie! Ek kan nie nou praat nie,” het Sana gesê voordat sy in trane uitgebars en die telefoon neergesit het.

Intussen het Philip Jada Natana, Suid-Soedan se ambassadeur in Suid-Afrika, gesê hy sal later kommentaar lewer, aangesien hy nog wag vir amptelike inligting oor die saak.

Suid-Soedan is sedert 2013 in ʼn burgeroorlog gewikkel tussen die Sudan People’s Liberation Army (SPLA) en regeringsmagte wat lojaal is aan pres. Salva Kiir.

Endley is in Augustus 2016 in hegtenis geneem en het op 13 Februarie 2017 vir die eerste keer in die hof verskyn. Gwyneth, William se dogter, het verlede jaar aan Maroela Media gesê haar pa se visum het verval en dat hy om dié rede nie die land kon verlaat nie. “Terwyl hy vir sy nuwe dokumentasie gewag het, het die sekuriteitswagte hom in sy hotelkamer in die hoofstad, Juba, in hegtenis geneem.”

endley-en-machar

William Endley, ʼn afgetrede Suid-Afrikaanse weermagkolonel, was ʼn veiligheidsraadgewer vir Riek Machar, die rebelleleier van die opposisie in Suid-Soedan. Foto: LinkedIn

Volgens sy verdediging het Endley slegs sy pligte as veiligheidskontrakteur vervul deur Machar se magte te help om in die Suid-Soedannese weermag te integreer.

Gardit Abel Gar, Endley se regsverteenwoordiger, het gesê ses getuies is kennis gegee dat hulle moet getuig, insluitend ʼn regeringsminister. Geen van die getuies wat deur die verdediging geroep is, het verskyn nie, wat daartoe gelei het daartoe dat regter Ladu Eriminio Sekwat beslis het dat die verdediging se saak gesluit is.

Endley het ook in Irak as ʼn private militêre kontrakteur gewerk nadat hy uit die Suid-Afrikaanse weermag afgetree het.

James Gatdet Dak, Machar se voormalige woordvoerder, is ook die doodsvonnis opgelê vir aanhitsing en sameswering teen Kiir se regering.

Suid-Soedan, wat in 2011 onafhanklikheid verkry het van Soedan, het in 2013 in burgeroorlog verval ná Kiir vir Machar, sy adjunk, afgedank het. Tienduisende mense is vermoor en ʼn groot hoeveelheid mense het gevlug. Baie van die mense wat ontwortel is, word in vlugtelingskampe in Uganda gehuisves wat tot Afrika se grootste vlugtelingskrisis gelei het.

Ten spyte van die nuwe skietstilstand wat in Desember geteken is in ʼn poging om die vredesooreenkoms van 2015 weer te bekragtig het gevegte steeds uitgebreek, wat die VSA genoop het om sanksies in te stel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Carl Jordaan ·

Dalk is daar vir hom begenadiging, alhoewel ek my nie kan indink dat die lewe in n tronk in Suid Sudan, goed kan wees nie. Dit was nog altyd n onstabiele gebied, selfs toe dit deel van Sudan was. Met hulle olie en die afhanlikheid van Noord Sudan vir die pypleiding, het daar n ongemaklike en kwesbare vrede tussen die twee gebiede ontstaan.

Sterkte ·

Sjoe dis drastiese stappe en hy was net n raadgewer!
Sterkte aan sy familie!

Alida ·

Dit is erg. Ons moordenaars loop vry rond want elke jan rap kry borg en MISKIEN oor 10 jaar gevonnis. What a joke!

Sarel swartbrand ·

Ek wed julle in Sudan sal jy twee keer dink voor jy n oortreding begaan wat die doodstraf tot gevolg sal hê net soos in Botswana waar moord maar min gebeur.

PJC ·

Die manier wat hierdie regter die saak hanteer het laat veel te wense oor. SA is in dieselfde rigting op pad as gevolg van transformasie. Ons sien alreeds elke dag baie omstrede beslissings in ons howe so ek dink nie onder hierdie omstandighede is die doodstraf ń goeie idee nie. Dit is mos baie duidelik wie aan die kortste end gaan trek.

Jerry ·

Sterkte aan die Endley gesin. Ons hou duim vas en hoop William word begenadig.

Johan. H. ·

Jammer ou maat dat jy gevorseer is om jou geld te gaan verdien in die buiteland, maar moet geen ondersteunining van SA regering verwag nie , STERKTE !!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.