Oud SS-wag (100) verhoor vir Nazi-oorlogsmisdade

Josef Schuetz versteek sy gesig Donderdag in die hof. (Foto: Tobias Schwarz / AFP)

’n Voormalige SS-wag is in die ouderdom van 100 die oudste nóg om tereg te staan vir oorlogsmisdade wat gedurende die Nazi-era gepleeg is.

Josef Schuetz se verhoor het Donderdag in Duitsland begin, hoewel hy volgens sy prokureur nie bereid is om oor destyds se gebeure te praat nie.

Schuetz word daarvan beskuldig dat hy tussen 1942 en 1945 “willens en wetens” medepligtig was aan die moord op 3 518 gevangenes in die Sachsenhausen-konsentrasiekamp in Oranienburg, noord van Berlyn.

’n Mediese ondersoek het Schuetz – wat in November 101 word – in Augustus medies geskik bevind om verhoor te word, hoewel sy verhoor tot ’n paar uur per dag beperk sal word.

Aanklagte teen Schuetz is onder andere dat hy medepligtig was aan die fusillering van Sowjet-Russiese gevangenes in 1942 , sowel as die moord op gevangenes deur die gebruik van die gifgas Zyklon B.

Schuetz se prokureur, Stefan Waterkamp, het vroeër vandag gesê sy kliënt sal gedurende die verhoor “nie praat nie, maar bloot inligting rakende sy persoonlike situasie verskaf”.

Thomas Walther, die regsverteenwoordiger van verskeie kampoorlewendes en slagoffers se familielede, het gesê hy hoop Schuetz sal van plan verander en eindelik begin praat oor sy tyd in die Sachsenhausen-konsentrasiekamp.

Schuetz se verhoor volg kort ná Irmgard Furchner, een van die eerste vroue wat in dekades vervolg word oor Nazi-era-misdade, versuim het om op te daag vir die begin van haar hofsaak.

Furchner staan tereg op aanklag van medepligtigheid in die moord op meer as 10 000 mense by die Stutthof-konsentrasiekamp in Pole.

Sowat 76 jaar ná die einde van die Tweede Wêreldoorlog is daar min tyd oor om mense aanspreeklik te hou vir hul rol in die Nazi-stelsel.

Maroela Media het vroeër berig staatsaanklaers hanteer tans nog agt ander sake, onder wie voormalige werknemers by die Buchenwald- en Ravensbrück-kampe. Verskeie sake is die afgelope paar jaar laat vaar omdat die beskuldigde reeds dood is of onbevoeg verklaar is om verhoor te word.

Voormalige SS-wag Bruno Dey is die laaste persoon wat skuldig bevind is. Hy is in Julie, in die ouderdom van 93, ʼn opgeskorte vonnis van twee jaar opgelê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

42 Kommentare

Hasie ·

Wat van die Britte wat Suid Afrikaanse vrouens in konsentrasie kampe gegooi het . Die Britte kan Suid Afrikaanse organisasies finansieële hulp verleen met die verskeie herdenkings terreine ,want daar is genoeg inligting om hul ook aan die pen te laat ry al is die mense reeds dood, kan die Britte verantwoordelikheid aanvaar vir hul aandeel aan die moord op Suid Afrikaanse vrouens wat in kampe gesterf het agv hul swak bestuur en waglike omstandighede waarin die vrouens moes leef en oorleef.

Bob ·

Ag, en so het almal iets om oor te kla, tot bt Adam en Eva. Ja dit is onmenslik, maar konsentreer eerder op die toekoms

Zombie ·

Wie het jy in gedagte om so ń proses te begin, Hasie? Miskien sommer jyself?

piet ·

Jy kan nie die vroue-konsentrasiekampe gedurende die boere-oorlog vergelyk met wat onder Nazi-bewind gebeur het nie. Daar was die doel om ‘n sekere volk heeltemal uittewis (volksuitwissing). Dit moet anders gesien word as ‘n gewone oorlogsituasie waar daar maar vuilspel aan beide kante is en mense aan albei kante doodgaan.

Esme ·

Die Britte sal nooit verantwoordelikheid aanvaar vir die Anglo Boere Oorlog nie. Met my navorsing oor die Suid-Afrikaanse geskiedenis het ek besef dat ‘n Brit altyd agter iets of iemand sal skuil.
Ek was briesend toe ek onlangs verneem dat ons huidige President met die Britse Eerste Minister beraadslag – beide is vir my verskonings as leiers.

Gert ·

Die Britse ryk was en is oor die hele aarbol verantwoordelik vir die moord van MILJLOENE mense-Konsentrasie kampe in SA, Indiese bevolking, Brts Genië en Britse Ryk oral. Hulle was die oorsaak van honderde oorloë en revolusies b.v. hul brutale uitbryding van die engelse ryk, die Amerikaanse burger Oorlog die eerste en tweede Wereld Oorloë e.n.s. Hulle het gewoonlik hul oorloë verloor en gebruik dan ander nasies se bloed om te wen. Maar soos die spreekwoordelike ‘Pided Piper’ lei hulle die mensdom aan hul neuse-sonder enige verantwoording!

Buck ·

Om wat te bereik. Soldate in n oorlog doen wat aan hul gese word. Die man is 101 jaar oud.

Tubac ·

My opinie is dit maar net om politiese inkorrektheid vry te spring. Bereik niks nie.

Esme ·

Op sy ouderdom het sy gewete hom nog nie tot in sy graf gery nie – daar is dus rede om hom strafregtelik te vervolg.

pestilensie ·

Weet werklik nie wat die doel is , as hulle sy storie wil hoor , voer onderhoud .

Esme ·

Ons was nie gevangenes in Konsentrasiekampe nie – ek glo die Joodse Gemeenskap sal die doel ten volle verstaan en ondersteun.

Mickey ·

die mense het tyd vir nonsense rerig. vir dinge wat amper 80 jaar terug gebeur het. dom

Esme ·

My Oupa Grootjie is op 6 Januarie 1900 deur ‘n Brit in Colesberg tydens die Anglo Boere Oorlog dood geskiet. Ek was gebroke toe ek sy sterfte sertifikaat ontvang. Daardie Brit is na die Anglo Boere Oorlog huistoe en hy het nooit weer aan die Reserwemag lid van ‘n skrale 47 jaar gedink nie. Nee, my siening is, as ek oortree word ek vervolg – as ‘n oorlog misdadiger of ‘n Covid 19 vervaardiger aangekeer word, vervolg hom.

Wicus ·

My oupa het die konsentrasiekamp oorleef, ek het die rekords van siy gevangeneming, was in die grot waar hulle geskuil het, weet waar hulle gevang is en waar vrygelaat. 3 van sy broers en susters is daar oorlede. Hy het my baie van die rebellie vertel, sy pa was ‘n kommandant, maar nooit wou hy oor die konsentrasiekampe vertel nie, het net ges-e daai boeke is toe, en ja, hy het ook onder Milner se verengelsingsbeleid gely.

piet ·

Tyd raak nou min om die Apartheid-manne ook tot verantwoording te roep.

Mallie ·

100 jaar oud. Gaan hulle hom hang of in die tronk gooi. Dis nou eenvoudig verby.

piet ·

Hongersnood en dwangarbeid, rolstoel en al. As hy nie kan werk nie, skiet hom dood soos hulle gemaak het met die Jode wat nie “nuttig” was nie. Dis mos wat hy aan die Jode gedoen het.

Barney ·

Hulle kla al sedert balingskap uit Egipte uit. Nou het hulle hul eie land met apartheids reëls wat verhoed dad swart haweloses in hulle land inkom. Judas en silwer muntstukke. Wanneer is dit Bill Gates en Fauchi se beurt vir eksperimentering op die mensdom?

Stefaan ·

Is Die Russe ooit tot verantwoording geroep vir die wandade wat hulle gepleeg het gedurende en na die oorlog?

piet ·

In alle oorloe word wandade gepleeg (aan albie gevegskante), dis ‘n geheel en al ander situasie.

Wicus ·

Net so. In enige oorlog is daar wandade aan beide kante. Maar ja, die wenner as daar so-iets is, is altyd die goeie ou.

Tiptol ·

Hulle gaan nie fisies tronk toe nie en die familie lede van die vermoorde mense kry bietjie berusting. Ons sal sekerlik wil hê mense moet deur hierdie proses gaan wat boere martel en vermoor, maak nie saak hoe lank dit vat nie.

Debbie ·

Hierdie is belaglik en n mors van geld. Na soveel jare en om n persoon in hul negentigs of 100 nou voor die hof te bring is regtig veregaande. Watse straf gaan daar vir n persoon van 100 jaar gegee word, lewenslank?

Marius ·

Dit is belaglik om nou mense te wil vervolg. Dit klink soos in SA met die bos oorlog , wat mense bloot opdragte uit gevoer het , dit was of die mense wat opdragte uit gevoer het se lewe of die terroriste se lewens .
Nou wat nou ???

Barney ·

Hoekom moet jy nie verantwoordelik gehou word vir jou dade nie net omdat jy oud is? Al gaan jy nie tronk toe nie, dit gaan daaroor dat jy jou misdade erken en geregtigheid vir die families. En dit stuur ‘n boodskap vir toekomstige moontlike soortgelyke gebeure. Sal jy gelukkig wees as iemand wat jou familie doodgemaak het nooit verhoor word nie net omdat dit lank terug gebeur het?

Kirst ·

As ons mense soos Zuma, Magashule en Mkhize vervolg het, sou dit dalk ook ‘n boodskap stuur aan die res wat hulle vingers in die kasregister het met ons geld in.

piet ·

Stem saam maggie. ouderdom is ‘n flou verskoning. Jy kan mos nou sien dat hierdie perde geen berou toon nie. Hierdie ou wil nie getuig nie en die ander enetjie wat in die hof moes verskyn daag nie op nie. Nee wat, vat hulle vas. Hopelik word die apartheid manne ook vasgevat voor dit te laat is. Hulle het darem baie ellende veroorsaak vir die hele populasie. Swart en wit. Swartmense is so ver teruggesit ekonomies en kyk net hoe moet ons nou gebuk gaan onder SEB en kwotas as gevolg van hul dade. Nee wat, sluit op.

LD ·

Hulle word verhoor met die hoop dat familielede van die slagoffers meer kan uitvind oor wat werklik daai tyd gebeur het en waarom. Dalk praat een van die beskuldigdes en kan mense ophou wonder oor die gebeure. Dis dalk al 80jaar terug maar daar is soveel onbeantwoorde vrae en sielkundige skade, iemand moet gestraf word al is die persoon ook hoe oud. Hy/sy het daai tyd geweet wat hulle doen is verkeerd en straftelik!

Bob ·

Jou stelling spruit uit die feit dat JY nie betrokke is nie. Wat is belaglik Hieraan? Ander mense wil graag uitsluitsel kry oor wat met hulle Famielie gebeur het. Verstaan jy DIT nie?

Kirst ·

Hulle kan ‘n 100-jarige vervolg 76 jaar na sy misdade, maar ons kry dit nie reg om vir Zuma te vervolg na wat hy onlangs aan ons land gedoen het nie?

Albert Willem ·

Dis belaglik hoekom nie Brittanje ook tot verantwoording roep vir al vroue en kinders wat in konsentrasie kampe gesterf het nie

Zombie ·

Roep hulle tot verantwoording, Albert. Of wil jy rustig agteroor sit en verwag “iemand” moet “hulle” tot verantwoording roep.

Zombie ·

Dit is verregaande om ń afsnyouderdom vir strafregtelike vervolging voor te staan. Ek wonder wattter ouderdom het die mense wat pro ń afsnyouderdom vir die vervolging van misdade het, 60, 70, 80 of 90 jaar? Watter kriteria sal gebruik word om ń afsnyouderdom te bepaal?
As ek die pro-afsnyouderdom voorstanders reg verstaan, kan iemand wat byvoorbeeld 30 jr oud is vervolg word vir ń kind wat hy verkrag het toe hy byvoorbeeld 27 jr oud was, maar as die verkragter dan die afsnyouderdom vir vervolging bereik, kan hy nie vervolg word nie. Dan is dit maar okay dat hy iemand se lewe vernietig het. Ras, geslag, ouderdom en sosio-ekonomiese status behoort nie ń rol in die die regspleging te speel nie.
Dis maar net die mening van ń Zombie en almal weet dat zombies nie funksionerende breine het nie…

Esme ·

Mag dit Nurenburg heropen vir misdade wat tans teen die mensdom gepleeg word en ‘n voorbeeld wees vir die brein agter Covid 19?

Herman ·

Wat is die sin in hierdie vervolgings? Al die mense wat nou vervolg word was soldate of werknemers wat opdragte uitgevoer het en kan dus nie verantwoordelik gehou word nie. Die besluitnemers is lankal reeds vervolg. Wat van huidige oortredings teen die mensdom en in besonder die volksmoord wat in Suid-Afrika gepleeg word? Waarom word dit nie aangespreek nie? Waarom is die Britte nog nie vervolg vir hulle moord op 26,000 weerlose vrouens en kinders tydens die Anglo Boere-oorlog nie. Waarom is die “joiners” en ‘hensoppers’ nooit vervolg vir hulle aandeel aan hierdie moorde nie?

Gert ·

Die Britse ryk was en is oor die hele aarbol verantwoordelik vir die moord van MILJLOENE mense-Konsentrasie kampe in SA, Indiese bevolking, Brts Genië en Britse Ryk oral. Hulle was die oorsaak van honderde oorloë en revolusies b.v. hul brutale uitbryding van die engelse ryk, die Amerikaanse burger Oorlog die eerste en tweede Wereld Oorloë e.n.s. Hulle het gewoonlik hul oorloë verloor en gebruik dan ander nasies se bloed om te wen. Maar soos die spreekwoordelike ‘Pided Piper’ lei hulle die mensdom aan hul neuse-sonder enige verantwoording!

Philip ·

Wat van Rudolph Hess onder leier van die Nazi party het letterlik n lewenslange vonnis in die tronk uitgedien het sonder enige deelname aan WW2 dubbelle standaarde sou ek se.Die wenners van n oorlog skryf die geskiedenis en hulle oordeel tel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.