Oud-student van Kaapstad sterf in reksprongongeluk

Kleyo de Abreu Foto: Facebook

Kleyo de Abreu Foto: Facebook

Kleyo de Abreu (23), ʼn oud-student van die Kaapse Skiereiland-Universiteit van Tegnologie, is dood toe sy tydens ʼn reksprong in Spanje teen ʼn ou klipbrug vasgeswaai het.

De Abreu, van Londen, is Dinsdagmiddag omstreeks 15:00 in Lanjaron, Granada, oorlede, aldus die Spaanse polisie. Haar tannie het die ongeluk sien gebeur.

Dit was De Abreu se tweede reksprong vir die dag.

Haar pa, Bernard Atwell, het aan die BBC gesê sy dogter was baie gaaf en iemand wat vir ander omgegee het, met ʼn borrelende persoonlikheid.

De Abreu is van Suid-Afrikaanse en Portugese herkoms aan haar ma se kant. Sy is in Londen gebore, maar het in Kaapstad grootgeword nadat haar ma en pa geskei het. Sy het modeontwerp aan KSUT studeer en het daarna besluit om na die Verenigde Koninkryk terug te keer. Sy het in Maart haarself in Brixton, in die suide van Londen, gevestig. Sy het onlangs eers weer met haar pa kontak gemaak nadat sy hom 23 jaar lank nie gesien het nie.

ʼn Familielid het aan die Daily Telegraph gesê De Abreu het deur Europa gereis en het vir ʼn paar dae by haar tannie en niggies in Spanje gekuier toe die tragedie plaasgevind het.

Sy het die reksprong by die 80 meter hoë Tablate-brug onderneem. Die brug is gewild onder adrenalienverslaafdes en verskeie avontuursportmaatskappye maak daarvan gebruik.

Die brug oor die Tablate-rivier waar die ongeluk plaasgevind het

Die brug oor die Tablate-rivier waar die ongeluk plaasgevind het

Volgens ʼn woordvoerder van die Guardia Civil in Granada het De Abreu nog leweloos aan die tou gehang toe paramedici by die toneel opgedaag het. Sy het ongeveer 25 minute lank aan die tou bly hang voordat hulle haar kon optrek en dood verklaar.

ʼn Voorlopige ondersoek dui daarop dat daar ʼn berekeningsfout was met die lengte van die tou. Die Daily Mail berig egter daar is bewerings dat die man, wat in beheer was van die reksprong, slegs twee maande lank in sy pos was en dat hy kort voor die ongeluk bier gedrink het.

ʼn Facebook-blad is intussen geskep waar vriende en familielede hul medelye kan betoon. “My dogter is weg en niks kan haar terugbring nie,” het haar pa gesê. “Ek het met die familie gepraat en ons is almal op dieselfde bladsy – ons wil nie hê so iets moet ooit weer gebeur nie. Elke pa sal dit seker sê, maar sy was baie spesiaal, sy was ʼn pragtige jong vrou wat haar lewe voor haar gehad het. Sy was 23 jaar oud, maar vir my sal sy altyd my klein babatjie wees en ek wil baie seker maak dat só iets nooit weer met enigiemand anders gebeur nie. RIV Kleyo.”

Bron: BBC, Daily Mail, The Guardian, Telegraph, Mirror

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Wonder ·

My innige simpatie aan haar familie en vriende. Maar, wanneer gaan mense besef dit is n gevaarlike uitstappie wat lelik skeef kan loop?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.