Die armband is ongeveer 40 000 jaar oud en toon merkwaardige vakmanskap. Dit is van glad gepoleerde groen klip (chloriet) gemaak en het waarskynlik aan die arm van ’n baie vername persoon gepryk.
Die interessantheid is dat navorsers tot die gevolgtrekking gekom het dat die steen nie deur ’n moderne mens, of selfs ’n voorouer van die moderne mens gemaak is nie, maar deur ’n ander spesie mense wat destyds saam met die moderne mens en die Neandertal-mens geleef het.
Die Denisova (Homo Denisova hominins) het soos die Neandertal uitgesterf. Waar die Eurasiese mense ’n klompie Neandertal-gene dra, kom 3 tot 5% van die Denisova se gene in die Maleisiërs en die Australiese aborigenes voor.
Die Denisova is ontdek toe genetiese materiaal van hierdie spesie in die Denisova-grot in Siberië se Altai-omgewing ontdek is. Die grot is ook in verskillende tydperke deur die Neandertal- en die moderne mens bewoon.
Die armband is in 2008 in ’n laag gevind wat deur die Denisova bewoon is, en ná jare se studie is die ouderdom en herkoms nou bepaal. Dit het die kennis oor die gevorderdheidsvlakke van die Denisova aansienlik uitgebrei.
Meer inligting en foto’s in The Siberian Times.
Baie interessant!!
Hierdie tipe goed is vir my vrek interessant. Dankie vir sulke berigte Maroela!