Oudkoning erken na jare buite-egtelike dogter

België se voormalige koning, Albert II en sy vrou, koningin Paola. (Foto: Virginia Mayo/AP)

Na jarelange hofsake het België se voormalige koning Albert II nou eindelik toegegee dat hy wél die pa van die kunstenaar en beeldhouer Delphine Boel is.

Die erkenning word beskou as ʼn enorme deurbraak in dié jarelange koninklike ouerskapskandaal.

Albert se prokureurs het Maandag in ʼn verklaring gesê daar is “wetenskaplike bewyse dat hy me. Delphine Boel se biologiese pa is”. Albert het verlede jaar ten einde laas ingestem om ʼn DNS-toets te laat doen.

Die koninklike erkenning het België se aandnuus oorheers kort nadat dit bekend geword het. Boel probeer al jare lank bewys dat die voormalige koning haar pa is. Albert het nooit openlik vaderskap ontken nie, maar het lank verseg om ʼn DNS-toets te laat doen.

Koning Albert II, wat in 2013 weens gesondheidsredes geabdikeer het, het Maandag gesê selfs al is daar nog regstappe wat gedoen kan word, is wetlike vaderskap nie noodwendig gelyk aan biologiese vaderskap nie.

Hy het ook gesê selfs al sou die saak op prosedurele gronde voortgesit word, hy besluit het om nie die roete te volg nie en die “pynlike proses met waardigheid te beëindig”.

Die kunstenaar Delphine Boel en haar Amerikaanse man James O’Hare. (Foto: Thierry Charlier/AP)

Boel se prokureur, Marc Uyttendaele, het aan die netwerk RTBF gesê “haar reaksie was een van verligting, emosie, maar ook van ʼn wond wat nie gaan genees nie”.

Gerugte oor ʼn verhouding tussen Albert en Boel se ma, die aristokratiese vrou van ʼn gegoede nyweraar, doen al jare lank die ronde. Nuus dat die koning moontlik ʼn kind saam met haar gehad het, het egter eers in 1999 aan die lig gekom toe ʼn boek oor Albert se vrou, koningin Paola, gepubliseer is.

In sy Kersboodskap aan die land daardie jaar het koning Albert gesuggereer dat hy in die verlede oor die tou getrap het. Hy het gesê hy en koningin Paola het in die laat 1960’s ʼn krisis beleef wat byna hul huwelik verwoes het. Hulle het egter lank gelede al hul huweliksprobleme oorkom.

Ses jaar gelede het Boel, wat op ʼn druppel water na sommige van die koninklike familielede lyk, ʼn hofgeding aanhangig gemaak om te bewys dat Albert haar pa is.

Boel het nog altyd volgehou sy het die vaderskapsaak aan die gang gesit uit woede omdat die koninklike familie haar die koue skouer gee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Leon ·

Die konings het al lankal buite egtelike verhoudings sedert Dawid se tyd.
Dit word al as ‘n norm beskou.

En nou? ·

Geluk Me Boel… hoop jyt nou vrede in jou hart! Maar weet jy wat, jy gaan geen erkenning, geen aanvaarding of geen geldtjies ooit kry nie! Mag jou siel en gees, tog nou tot ruste kom..

Andile ·

Kan jy glo dat na jare se leuns en ontkenning hy dink hy met waardigheid kan wegstap.

Gideon ·

MM ek dink iewers is ‘n spelfout! Is dit nou Paula of Paola?

Megan Swart ·

Dagsê Gideon
Dit was inderdaad ‘n fout. Ons vra om verskoning. Die artikel is gewysig.
Dankie! Groetnis
Megan
nms Maroela Media

JohanR ·

Geen skande nie my koning. Hier in SA het ons ‘n Jacob Zuma. Hy is jou ver vooruit!

Jack Klok ·

Al loop die leuen ook hoe snel, die waarheid agterhaal hom wel.

My simpatie met Me Boel dat sy vaderloos moes grootword, verwerping en smaad moes ervaar.

Dis dinge soos die wat maak dat ek van harte ‘n republikein is.

Willem Grobler ·

@Jack Klok – En as die republikeine oor die tou trap Jack…?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.