Oudkrieketkaptein verban oor korrupsie-streke

Heath Streak word as Zimbabwe se voorste bouler ooit bestempel. Foto: Alexander Joe/AFP.

Die voormalige Zimbabwiese krieketkaptein, Heath Streak, is vir die volgende agt jaar uit alle krieket verban weens aanklagte van korrupsie.

Volgens die BBC het Streak – wat as Zimbabwe se beste bouler ooit bestempel word – gedurende sy tyd as afrigter van die Zimbabwiese nasionale span en verskeie T20-spanne in Asië inligting oor wedstryde en die kontakbesonderhede van spelers aan ’n “Mnr. X” verskaf.

Hy het onder meer Bitcoin-betaling en ’n iPhone as vergoeding ontvang.

Streak is aangekla en het skuld erken op vyf oortredings van die Internasionale Krieketraad se teenkorrupsiekode.

Die IKR het verder gesê dat hy probeer het om hul ondersoek te ontwrig deur onder meer telefoonboodskappe uit te vee.

“Heath Streak is ’n ervare voormalige internasionale speler en afrigter wat aan verskeie teenkorrupsie-programme deelgeneem het. Hy was ten volle bewus van sy optrede,” het die IKR se Alex Marshall gesê.

Die 47-jarige snelbouler het in sy speeldae 216 paaltjies in 65 toetse vir Zimbabwe laat kantel, terwyl sy naam ook op Lord’s se ererol pryk nadat hy 6/87 in ’n toets teen Engeland op die veld geneem het.

“As voormalige kaptein en afrigter het hy ’n vertrouensposisie beklee waarvolgens hy verplig was om die integriteit van die spel te handhaaf. Hy het verskeie kere ons etiese kode oortree deur onder meer vier spelers by die omkopery te betrek.”

Volgens Marshall het Streak se oortredings egter nie die uitslag van ’n wedstryd beïnvloed nie en hy het ingestem om die IKR van hulp te wees.

Hy mag eers op 28 Maart 2029 weer aktief by die sport betrokke wees.

David Coltart, die voormalige Zimbabwiese minister van sport, het op sosiale media gesê dat daar geen verskoning vir Streak se gedrag is nie, maar dat hy bly is dat die snelbouler skuld erken het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Leeuwyfie ·

Onthou ek nou Hansie Cronje se storie. Dit kan sekerlik nie net geld wees wat hulle dryf om dit te doen nie. Die mense wat hierdie inligting soek is gewoonlik van Indië afkomstig en hulle het baie geld en mag. Begin so iets klein? Begin dit dan eskaleer deur afpersing? Hoekom word meer as een persoon betrek? Kan ons nog ‘n vliegramp verwag? Die mense wat hierdie informasie soek moet vasgetrek word. Ek kan nie glo dat daar nog krieketspelers is wat dit sal doen nie. Was dit die moeite werd?

Amanda ·

Hansie was die ENIGSTE een wat mans genoeg was om te erken dat hy n fout gemaak het en het sy straf soos n MAN aanvaar. Daar is ander spelers wat vir jare daarna NOG krieket gespeel het en weg gekom het met hul skelm streke. Hansie sal ALTYD n hero in my oë bly, ongeag. Moenie my verkeerd verstaan nie, wat hierdie manne doen en gedoen het is verkeerd maar hoekom nie ALMAL wat oneerlik was, lewenslank skors nie?

Yolandie ·

Ek stem saam Amanda. Vreemd hoe konsekwent die sport wereld is met hoe hulle straf uitdeel neh. Hansie Cronje verneder en lewenslank geskors en die kalant kry 8 jaar. So veel ander spelers en name wat al deur die jare genoem is vir die tipe oortredings en absoluut NIKS is aan hulle gedoen nie. Ek verwys spesifiek na die Aussies.

Blikkies ·

Net my persoonlike mening, Die integriteit van krieket is al vir jare aan flarde oor korrupsie deur spelers self, en daarom vir my ongeloofwaardig. Jy weet nooit of ‘n spel ‘gekook’ is nie. Ek kan nie meer met sekerheid se of ‘n speler op enige dag regte talent toon en of hy maar net ‘n af dag het nie, daarom kyk ek dit nie meer nie. Dus hou ek my maar by Individuele Sport waar jy teen jou self moet bewys hoe goed jy is. Lekker Krieket kyk julle.

Chris ·

Blikkies ek stem saam. Individuele sporte is minder korrup, hoop/glo ek. Maar wat maak jy as jy na ‘n haan geveg toe gaan en daar kom ‘n ou met ‘n eend daaraan, en die eend wen? Moeilike tye.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.