Oudpolisieman erken hy skend vermoorde George Floyd se regte

Derek Chauvin, ‘n voormalige beampte van Minneapolis in die VSA, tydens ‘n vorige hofverskyning. (Foto: Court TV/AFP)

Darren Chauvin, ʼn oudpolisieman van Minneapolis in die VSA wat skuldig bevind is aan die moord op George Floyd, het Woensdag skuldig gepleit dat hy die swart man se burgerregte geskend het.

Chauvin (45) het in ʼn distrikshof in St. Paul skuldig gepleit op die aanklag dat hy oormatige geweld gebruik het deur sy knie byna 10 minute lank op Floyd se keel te hou. Floyd is op 25 Mei verlede jaar ná die voorval dood.

In ʼn pleitooreenkoms met die staat het Chauvin erken dat hy welwetend uitermatige mag gebruik het, asook besef het dat sy optrede verkeerd is.

“Die beskuldigde besef ook dat daar geen wetlike regverdiging was vir sy voortgesette gebruik van geweld nie. Hy was bewus daarvan dat mnr. Floyd hom glad nie meer teëgesit het nie, asook opgehou praat, opgehou beweeg, opgehou asemhaal en sy bewussyn en polsslag verloor het,” lui die pleitooreenkoms.

Floyd se dood, wat deur ʼn verbyganger verfilm is, het maande lange Black Lives Matter-betogings in die VSA oor die polisie se hantering van swart Amerikaners laat ontstaan.

Chauvin het ook skuldig gepleit daaraan dat hy die grondwetlike regte van ʼn 14-jarige seun in ʼn afsonderlike saak geskend het. In die voorval in 2017 het Chauvin die geboeide seun met sy gesig in die grond gehou en hom verskeie kere met ʼn flitslig op die kop geslaan.

Die departement van justisie sê hoewel hy besef niks kan die skade weens die optrede ongedaan maak nie, is die departement daartoe verbind om diegene wat die land se grondwet skend aanspreeklik te hou. Die departement sê hy is ook verbind daartoe om die burgerregte van alle Amerikaners te beskerm.

Chauvin is in Junie skuldig bevind aan Floyd se moord en meer as 22 jaar tronkstraf opgelê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
Anton

Een van die bydraende faktore van die huidige geweld in die VSA. Geen regdenkende mens sal meer in wetstoepassing ‘n loopbaan kies nie

Hennie

Foei tog… Van breaker tot kruiper….

JohanR

Hoeveel maal moet die man nog skuldig pleit vir iets?

Althes

Hy het Black Lives Matter ñ slaanstok gegee deur op die beskuldigde se nek te kniel, nou kniel al wat ñ sportman en sportlui oor die belaglikheid voor ñ wedstryd.
So asof ons almal moet boet aan sy dade.

Pierre

Nou wat van die 4 mense se regte wat George Floyd geskend het? “he beat them senseless” lui die artikel in Amerikaanse web tydskrif.