Oudpres. George H.W. Bush in waakeenheid opgeneem

Voormalige presidente George W. Bush kom met sy pa, George H.W. Bush, aan by die begrafnisdiens van Barbara Bush in Houston (21 April 2018). Foto: AP Photo/David J. Phillip

Voormalige Amerikaanse president George H.W. Bush is Sondag in die waakeenheid van ʼn hospitaal in Houston, Texas, opgeneem, net een dag ná sy vrou se begrafnis.

Die New York Times berig Bush (93) het ʼn infeksie opgedoen wat na sy bloed versprei het. Volgens die nuusagentskap het Jim McGrath, Bush se woordvoerder, gesê “hy reageer goed op die behandeling”.

CNN berig Bush is in ʼn kritieke toestand en die infeksie is “baie ernstig”.

Bush, wat van 1989 tot 1993 president was, het verskeie gesondheidsprobleme die afgelope paar jaar ondervind en is verlede jaar twee keer vir longontsteking in die hospitaal opgeneem.

Sy vrou, Barbara, is verlede week in die ouderdom van 92 dood. Maroela Media het vroeër berig Barbara is dekades lank vir Grave se siekte, wat die skildklier aantas, behandel. Sy het ook ʼn hartoperasie in 2009 ondergaan. ʼn Woordvoerder het kort voor haar dood gesê Barbara was baie sieklik en verswak, maar het verdere mediese behandeling van die hand gewys.

Oudpres. George H.W. Bush is Saterdag by die begrafnis van sy vrou afgeneem met sy seun, George W., sy dogter, Laura, Bill en Hillary Clinton, Barack en Michelle Obama en Melania Trump aan sy sy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.